Maak Ontmoetings met God die Spilpunt van jou LeweVoorbeeld
Beskou God as ons Vader
Die één Naam van God wat daartoe in staat is om die lewe van gelowige mense op 'n buitengewone manier te verander, is die naam "Abba" of "Vader". Alles verander wanneer ons God as ons Vader beskou. In die boek van Brennan Manning, getiteld "The Furious Longing of God", vra hy hierdie direkte en kragtige vraag (vrylik vertaal):
"Word jou persoonlike gebedslewe deur die eenvoudige, byna kinderlike openhartigheid, grenslose vertroue, en gemaklike gemeensaamheid van 'n kind wat op sy pa se skoot klim, gekenmerk? Gemaklik in die wete dat Pappa nie sal omgee as hy of sy aan die slaap raak of met speelgoed begin speel nie — of selfs met 'n maatjie begin gesels nie — want Pappa weet dat die hoofdoel van die kindjie se keuse was om op daardie oomblik by hom te wees? Is dit die gesindheid van jou persoonlike gebedslewe?"
Die eerste keer wat ek hierdie vraag gelees het, het ek gedink: "Dit kan beslis nie so eenvoudig wees nie. Kan dit werklik ál wees wat God van my verwag?" Ons besef nie wat dit waarlik beteken om kinders van 'n goeie, nabye en liefdevolle Vader te wees nie. Ons projekteer ons eie onsekerhede, indrukke en ondervindings op 'n God wat die verpersoonliking van liefde is. Daar is niks wat ons ooit kan doen om te veroorsaak dat God ons méér sal liefhê as wat Hy ons alreeds het nie. Daar is ook niks wat ons ooit kan doen om te veroorsaak dat Hy ons minder liefhet nie. God het ons lief omdat Hy ons liefhet. Hy skep behae in ons omdat Hy in ons behae het. Hy wil by ons wees want dit is net hoe Hy is, nie omdat ons op enige manier sy hunkering na ons verdien nie.
Johannes 3:16 sê:God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
God het ons selfs gedurende die tye toe ons in sonde vasgevang was en van God vervreemd was, steeds genoeg liefgehad om die hoogste prys vir ons redding te betaal. Jesus se liefde vir ons was so sterk dat Hy sy eie lewe as versoening vir ons foute, mislukkings, swakhede en broosheid neergelê het. God het ons tóé onvoorwaardelik liefgehad en Hy het ons nou onvoorwaardelik lief. God het ons tóé gekies, en Hy kies ons ook nou. God het tóé 'n behae in ons gehad, en Hy het nou 'n behae in ons.
Ons moet die aard van God se liefde verstaan voordat ons 'n ontmoeting met Hom die spilpunt van ons lewens kan maak. Ons moet ons met Hom — bo alles anders — as 'n goeie en liefdevolle Vader vereenselwig. Ons moet enige idee dat Hy vir ons kwaad is, ver van ons af is of 'n gebrek aan liefde vir ons het, verwerp. Ons sal slegs tot so 'n mate aangetrokke voel tot ons hemelse Vader as wat ons Hom vertrou en Hom glo wanneer Hy sê dat Hy ons liefhet. Maak vandag van die geleentheid gebruik om God se oorweldigende en onvoorwaardelike liefde vir jou te ontvang. Laat toe dat sy liefde 'n nuwe ingesteldheid kweek in die plek van jou bestaande wanindrukke en oortuigings. Reageer op sy groot liefde deur jou openhartige gemeensaamheid met jou skepper, onderhouer en liefdevolle hemelse Vader.
Gebed
1. Dink na oor die goedheid van God as jou volmaakte Vader. Wat sou die invloed op jou verhouding met Hom wees wanneer jy Hom waarlik in hierdie lig beskou? Hoe kan jy — gesien in die lig van sy Woord — jou huidige indrukke vervang met 'n nuwe ingesteldheid?
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Johannes 3:16).
“Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel” (Matteus 23:9).
“ Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie” (Jakobus 1:17).
2. In watter opsig het jy God op 'n ander manier as 'n liefdevolle Vader beskou? Het jy Hom beskou as 'n opdraggewer, afsydige skepper, of 'n kwaad of onbetrokke Vader?
"Word jou persoonlike gebedslewe deur die eenvoudige, byna kinderlike openhartigheid, grenslose vertroue, en gemaklike gemeensaamheid van 'n kind wat op sy pa se skoot klim, gekenmerk? Gemaklik in die wete dat Pappa nie sal omgee as hy of sy aan die slaap raak of met speelgoed begin speel nie — of selfs met 'n maatjie begin gesels nie — want Pappa weet dat die hoofdoel van die kindjie se keuse was om op daardie oomblik by hom te wees? Is dit die gesindheid van jou persoonlike gebedslewe?" (Brennan Manning, vrylik vertaal uit "The Furious Longing of God".
3. Vra vir God om jou te help om vandag die diepte van sy liefde te ervaar. Neem 'n oomblik om van sy teenwoordigheid bewus te word en in sy goedheid rus te vind. Ontbloot enige areas van jou lewe wat nie die vrug van sy onvoorwaardelike liefde dra nie en ontvang al sy toegeneentheid wat Hy aan jou skenk.
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Efesiërs 1:3).
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie lewe word bepaal deur een enkele vraag: wié of wát is die spilpunt van jou lewe? Hierdie keuse lei ons op 'n pad van besluite wat ons menswees vorm: wie ons is' hoe ons voel, aan wie of wat ons waarde heg en wat ons teen die einde van ons lewensdae sal bereik. Wanneer die eie ek of die dinge van hierdie wêreld die spilpunt van ons lewens is, lei dit net na vernietiging.
More