Maak Ontmoetings Met God die Spilpunt Van Jou LeweVoorbeeld
Kies 'n Spilpunt
Hoe sou ons lewens lyk indien ons waarlik 'n ontmoeting met God die spilpunt van ons tyd, energie, emosies en strewes sou maak? Ons almal kies om iets of iemand die spilpunt van ons lewens te maak. Elke besluit wat ons neem, word bepaal deur dit waaraan ons die meeste waarde heg. Vir sommige van ons is die eie ek die spilpunt van ons bestaan. Vir 'n ander groep mense is dit die menings van andere wat deurslaggewend is. Daar is ook diegene wie se lewens gevorm word deur 'n sekere begrip of idee wat weer deur húlle as waardevol geag word. My gebed is dat ons — as die liggaam van Christus — na 'n ontmoeting met ons Skepper as die spilpunt van ons lewens hier op aarde sal hunker. Hy is die Een wat waardig is om ons hoogste agting te ontvang.
Wanneer ons 'n ontmoeting met God die spilpunt van ons lewens maak, ag ons die heel beste as waardevol.
Psalm 84:11-13 stel dit soos volg: "Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God. Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie. Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!"Wanneer ons ons vertroue en waarde in God stel, plaas ons onsself in 'n posisie waar ons in geluksalige gemeenskap leef met ons Vader wat ons liefhet. Ons God verlang na 'n ontmoeting met ons. Hy verlang daarna dat ons sy goedheid sal sien en ervaar. Alleenlik deur bowenal in gemeenskap met ons Skepper te leef, sal ons die verstommende, oorvloedige lewe ervaar wat God graag aan ons wil gee.
Ek sou kon sê dat God vir die grootste deel van my lewe die spilpunt van my bestaan was. Ek sou kon sê dat ek Jesus as my hoogste waarde geag het. My optrede, tyd en gedagtes het egter nooit daardie verklarings gestaaf nie. Ons bring tyd deur saam met diegene vir wie ons die liefste is. Die persoon of item wat ons as die waardevolste ag, word die spilpunt van ons emosies, optrede en gedagtes. Indien ons lewens nie waarlik 'n toonbeeld van Jesus as ons spilpunt is nie, moet ons opregte selfondersoek doen en God vra om ons te help om veranderings aan te bring. Ons moet ons gebrokenheid en sonde voor God erken en sy volmaakte hulp vra om ons as sy kinders — in wie sy teenwoordigheid sigbaar is — te herskep.
Indien enige iets anders as Jesus die spilpunt van ons lewens is, sal dit slegs tot teleurstelling en ontevredenheid lei. Hierdie wêreld kan ons niks goeds aanbied nie. Wanneer die eie ek die spilpunt van ons lewens is, sal dit slegs die aardse laste en inspanning vermeerder. Wanneer ons ander mense die spilpunt van ons bestaan maak, sal dit tot 'n emosionele wipplankrit lei met die gebrokenheid en broosheid van andere as dryfkrag. Indien ons lewens deur 'n sekere begrip of idee gevorm word, sal ons slegs verganklike skatte op hierdie reeds kwynende aarde bymekaarmaak.
Staan 'n oomblik af om opregte selfondersoek te doen. Laat die Heilige Gees toe om enige area waar 'n ontmoeting met God nie die spilpunt van jou lewe is nie, aan jou te openbaar. Bely enige wêreldse of selfsugtige begeertes en streef na die verstommende, oorvloedige gemeenskap met jou goeie en liefdevolle hemelse Vader as die spilpunt van jou lewe.
Gebed
1. Dink na oor die belangrikheid van 'n ontmoeting met God as die spilpunt van jou lewe. Laat toe dat die Skrif jou hart daarna laat hunker om die hoogste waarde op 'n ontmoeting met jou Skepper te plaas.
“Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra” (Klaagliedere 3:25).
“Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word” (Prediker 12:13).
2. In watter opsig is 'n ontmoeting met God nie die spilpunt van jou lewe nie? Waaraan het jy jou waarde, energie, tyd en emosies gewy in plaas daarvan om dit aan Jesus te wy?
“Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie” (Galasiërs 1:10).
3. Vra die Heilige Gees om jou te help om die spilpunt van jou lewe te herstel. Vra Hom om jou te wys hoe dit waarlik lyk om 'n ontmoeting met God as spilpunt van jou lewe te hê. Neem die besluit om jou verhouding met God — bo alle ander dinge — as waardevol te ag.
“Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God. Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie. Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!” (Psalm 84:11-13).
“Ek het dié lief wat my liefhet; dié wat my soek, vind my” (Spreuke 8:17).
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
'n Enkele keuse rakende wié of wát die spilpunt van jou lewe is, het 'n diepgaande invloed op hierdie lewe. Hierdie keuse lei ons op 'n pad van besluite wat ons menswees vorm: wie ons is, hoe ons voel, aan wie of wat ons waarde heg en wat ons teen die einde van ons lewensdae sal bereik. Wanneer die eie ek of die dinge van hierdie wêreld die spilpunt van ons lewens is, lei dit net na vernietiging.
More