Maak Ontmoetings Met God die Spilpunt Van Jou LeweVoorbeeld

Centering Your Life Around Meeting With God

DAG 2 VAN 7

God se Verlange na 'n Ontmoeting met Jou

Ek het gewoonlik my stiltetyd met my hemelse Vader beskou as iets waarvoor ek myself moes aanmoedig. Ek het die prentjie in my gedagtes gesien van God wat in 'n kamer op my wag — vir seker gereed om my te seën — maar dit het gevoel asof die totale verantwoordelikheid op my eie skouers was om Hom te kies. Hierdie wanpersepsie oor God se hart was baie ver van die waarheid verwyder.

Ons dien 'n God wat gedurig, liefdevol en kragtig na ons uitreik.

In Die Openbaring 3:20 staan daar geskryf: "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My."

Op hierdie oomblik is God besig om aan jou hart se deur te klop. God verklaar sy liefde vir jou met elke sagte ritseling van 'n herfswindjie wat oor jou gesig streel, met elke skilderagtige sonsopkoms, met elke asemrowende ster in die hemelruim.

God reik uit na ons op elke denkbare manier. Die grootste begeerte van sy hart is om met sy kinders 'n verhouding te hê. Deur te weet daarvan en sy oorweldigende toegeneentheid teenoor ons te ontvang, kan ons harte na 'n ontmoeting met Hom hunker. Wanneer ons tyd daaraan wy om sy voortdurende hunkering na ons raak te sien, sal ons outomaties 'n ontmoeting met ons hemelse Vader as die spilpunt in ons lewens inrig.

Ons moet ons lewens beplan sodat 'n ontmoeting met God die spilpunt word, omdat die kern van God se hart 'n intense, onversadigbare verlange na 'n ontmoeting met ons is. Die Skepper van die heelal verlang daarna om gereelde en getroue ontmoetings met jou te hê. God is almagtig, alwetend, vol genade, in Hom is die vervulling van volmaakte liefde en Hy hunker daarna om deur jou geken te word. Ons is geskape met die begeerte om naby aan ons Skepper te wees. Ons is geskep om ons hemelse Vader te ken en deur Hom geken te word. Ons is geskep om elke oomblik van elke dag saam met Hom deur te bring. Dit is nie dat ons 'n ontmoeting met God die spilpunt van ons lewens "behoort" te maak nie — dit is waarvoor ons geskep is en wat ons móét doen.

Hooglied 7:10 sê: “Ek behoort aan die man wat ek liefhet en dit is na my dat hy smag.” Mag jy vandag in die kennis van God se hunkering na jou groei. Mag jy jouself as “sy geliefde” leer ken. Mag jou lewe deur 'n natuurlike reaksie op jou Skepper se eindelose hunkering na jou gekenmerk word. Mag 'n ontmoeting met God die spilpunt van jou bestaan wees — nie uit verpligting nie, maar omdat Hy so daarna hunker om 'n ontmoeting met jou te hê.

Gebed

1. Dink na oor God se hunkering na 'n ontmoeting met jou.

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My” (Die Openbaring 3:20).

“Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies ..." (Johannes 15:16).

2. Wat beteken dit vir jou lewe dat jou liefdevolle Skepper voortdurend na jou hunker? Hoe sou dit voel om 'n lewe te leef wat elke oomblik deur 'n reaksie op God se liefde gekenmerk word ?

3. Neem 'n oomblik om God te ontmoet. Vra Hom hoe Hy oor jou voel. Vra Hom om sy hunkering na jou aan jou te openbaar. Reageer liefdevol op sy toegeneentheid tot jou. Vertel eerlik aan Hom hoe jy voel.

“Ek behoort aan die man wat ek liefhet en dit is na my dat hy smag” (Hooglied 7:10).

“Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem — hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê” (Psalm 139:17-18).

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Centering Your Life Around Meeting With God

'n Enkele keuse rakende wié of wát die spilpunt van jou lewe is, het 'n diepgaande invloed op hierdie lewe. Hierdie keuse lei ons op 'n pad van besluite wat ons menswees vorm: wie ons is, hoe ons voel, aan wie of wat ons waarde heg en wat ons teen die einde van ons lewensdae sal bereik. Wanneer die eie ek of die dinge van hierdie wêreld die spilpunt van ons lewens is, lei dit net na vernietiging.

More

Baie dankie aan First15 wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.first15.org/