Oorkom VerslawingVoorbeeld
Verslawing soos deur God Gedefinieer
In 2015 het Ronda Rousey, vegter in die "Female Ultimate Fighting Championship", hoofopskrifte en die sport gedomineer. Soos een sportontleder dit gestel het: "Sy het 'n definisie van haarself gevind en sy het regtig gehou van dit wat sy gevind het." Toe veg sy teen Holly Holm. Die klaarblyklik onoorwinlike Ronda Rousey is uitgeslaan en het verloor.
Haar lewe het in 'n diep depressie verval. Sy het gesê: "Wat is ek meer as ek nie hierdie is nie?" Sy het haar identiteit verloor. Hoekom?
Regdeur die Bybel word gesien hoe mense afgode aanbid. Wanneer ek die woord "afgod" sê, dink jy miskien aan 'n oeroue beeld of so iets. 'n Afgod is enigiets wat ons hoër as God ag. Ons sien dit in die eerste gebod: "Jy mag naas My geen ander gode hê nie" (Eksodus 20:3).
Deur sy Woord, verbind God hierdie twee konsepte van verslawing en afgodery. Uiteindelik is verslawing 'n geestelike sowel as 'n afgodiese kwessie. Kom ons kyk hoe verslawing verband hou met afgodery.
Eerstens: verslawing en afgodery gebeur wanneer iets of iemand anders as God mag oor ons het. Wanneer ons verslaaf is, gee ons meer waarde of belangrikheid aan iets of iemand as wat hulle verdien. Niks anders as God behoort oppermag oor ons te hê nie.
Tweedens: verslawing en afgodery gebeur wanneer iets oor ons heers. Wanneer iets of iemand ons gedrag bepaal, het ons dalk in verslawing en afgodery verval. Ons mag dalk ook doelbewus ons gedrag aanpas om meer aanvaarbaar vir iemand te wees. Hierdie is ook tekens van verslawing en afgodery.
Derdens: verslawing en afgodery vind plaas wanneer ons iets anders as God aanbid of verheerlik. Waar bring jy meeste van jou tyd deur? Sosiale media? Hoekom voel dit soos die dood as iemand jou foon wegvat? Waaraan bestee jy meeste van jou geld? Waaraan gee jy meeste van jou energie en moeite? Al hierdie vrae kan jou help om 'n verslawing of afgod uit te ken.
As ons terugdink aan gister se mediese definisie en dit kombineer met vandag se Bybelse definisie, is die volgende 'n meer omvattende definisie van verslawing: om iets anders as God op 'n herhaaldelike, gewoontevormende of voorspelbare manier na te jaag om in ons behoeftes te voorsien en aan ons troos te bied, selfs al is dit nadelig vir ons.
Wanneer jy beproewing of spanning ervaar, waarheen hardloop jy? Waar vind jy verligting of troos? Jou antwoorde mag dalk jou afgode en verslawings openbaar.
Aangaande hierdie leesplan
Het jyself 'n verslawing of ken jy dalk iemand wat een mag hê? Verslawings is so algemeen dat almal van ons in der waarheid minstens een of twee het. In hierdie reeks gebruik Dr Karl Benzio, 'n Christen psigiater, die wetenskap van sielkunde oor hoe God ons brein ontwerp het en lê daardeur die oorsaak en simptome van verslawing uit. Dan wys hy ons hoe om die metodes toe te pas wat God vir ons in die Bybel openbaar ten einde genesing te verkry en sodoende ons gedagtes te vernuwe en bevry te word van die verslawende afgode wat ons hart gevange hou.
More