Verlos!Voorbeeld

Verlos!

DAG 7 VAN 7

Wandel in vryheid

Ek het ’n pragtige storie gelees van ’n man wat op ’n uitreikveldtog gegaan het wat in ’n groot tent gehou is. Die pastoor het ’n altaaroproep gedoen en die man het vorentoe gegaan. Maar toe hy by die tent uitstap, het die duiwel vir hom gesê hy is ’n leuenaar, en hom herinner aan al sy sondes. Die man was heeltemal swaarmoedig teen die tyd dat hy by die huis gekom het. Hy het egter nie moed opgegee nie en die volgende aand is hy terug na die tent toe. Die pastoor het nog ’n vurige boodskap gebring en hy het weer opgestaan en vorentoe gegaan. Hy het sy sonde bely en hy was verheug en baie gelukkig. Toe hy by die tent uitstap, het die duiwel dieselfde gedoen as die vorige aand.

So het dit aangehou vir vyf aande. Op die vyfde aand het hy ’n hamer en ’n houtpaal saamgeneem. Toe die pastoor die oproep doen, het hy vorentoe gegaan en die sondaarsgebed vir die vyfde keer gebid. Toe neem hy die houtpaal en slaan dit in die grond vas met ’n veertienpondhamer. Daarna het hy uitgeloop. Iemand het hom voorgekeer en gevra hoekom hy dit gedoen het. Hy het gesê: “Ek het my klere aan die mas gehang en ek het my sonde in die grond ingeslaan.” Die duiwel het hom nie weer daardie aand gepla nie. Daardie man het homself gebind aan die horings van die altaar. Hy het verklaar dat hy voor God staan, en daarom, volgens Romeine 8:1: “ … is daar dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

Mense kom dikwels na my toe en sê: “Angus, ek is nie seker of God my vergewe het nie.” As jy jou sonde bely het, dan het Hy jou vergewe. Hy beveel jou om te gaan, en nie verder te sondig nie. Ek herinner myself elke dag daaraan dat ek vry is omdat Jesus vir my aan die kruis op Golgota gesterf het.

Vader, ek dank U dat op grond van wat Jesus vir my gedoen het aan die kruis, ek nie veroordeeld voor U staan nie. Ek is vergewe, my sonde is weggewas. Help my om elke dag in gehoorsaamheid aan U te wandel. Help my om op die altaar te bly. Amen.

Hierdie oordenkings is saamgestel uit IN STILWEES EN VERTROUE deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Verlos!

Jesus het geweet dat vergifnis van sonde mense waarlik vrymaak. En ons kan vergifnis alleenlik in Jesus vind. Angus Buchan sê dat ons werklik moet besef wat Jesus vir ons op Golgota bekom het, en ons moet Hom elke dag dank dat ons verlos is na liggaam, siel en gees. Hierdie 7 oordenkings is geneem uit Angus se dagboek IN STILWEES EN VERTROUE.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/