Verlos!Voorbeeld

Verlos!

DAG 4 VAN 7

’n Ambassadeur van Jesus weet dat hy vergewe is

Wat ’n wonderlike storie is hierdie nie. Jesus sê dat as jy baie kere vergewe is, sal jy baie liefhê; as jy vir min vergewe is, sal jy min liefhê. Daar is nie ’n persoon op hierdie aarde wat nie die vergifnis van God nodig het nie. Romeine 3:23 sê: Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” As jy nou daar sit en lees en jy dink daar is geen sonde in jou lewe nie, dan mislei jy jouself. Die grootste sonde van alles is wanneer jy nie erken dat Jesus aan die kruis van Golgota vir jou sondes gesterf het nie.

Ek weet vir seker dat as dit nie vir Jesus Christus was nie, sou ek nie kon preek of die Here in enige hoedanigheid kon dien nie. Hy het my stukkende lewe geneem en dit herstel; Hy het my ’n nuwe mens gemaak. Hy het al my sondes van die verlede vergewe. Sommige mense sê: “Angus, nou gaan jy darem te ver.” Maar ek glo dit nie vir ’n oomblik nie. Ek is ’n gewone, Christen; maar ek dien ’n magtige God. As ’n sondaar, gered deur genade, weet ek dat ek vergewe is. Ek loop elke dag in God se vergifnis. Jy kan nie ’n effektiewe ambassadeur vir Jesus Christus wees as jy nie weet dat jou sondes vergewe is nie. As jy nie die sekerheid van jou redding het nie, hoe sal jy ander kan help om redding en vergifnis in Jesus te vind?

Romeine 8:1-2 sê: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.” Hierdie teksvers verseker ons dat as ons ons sondes bely, en opregte berou het oor ons sonde, is ons vergewe. Jy kan seker wees van hierdie vergifnis. Jy kan die vertroue hê om ’n ambassadeur van Jesus te wees, want jou sondes is jou vergewe.

Vader-God, ek dank U in nederigheid vir die genade en barmhartigheid wat U op my lewe uitgestort het. Ek is niks sonder U nie. U het my soveel maal vergewe; ek sal nooit ophou om U te loof en U te dank vir die seën van vergifnis nie. Amen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Verlos!

Jesus het geweet dat vergifnis van sonde mense waarlik vrymaak. En ons kan vergifnis alleenlik in Jesus vind. Angus Buchan sê dat ons werklik moet besef wat Jesus vir ons op Golgota bekom het, en ons moet Hom elke dag dank dat ons verlos is na liggaam, siel en gees. Hierdie 7 oordenkings is geneem uit Angus se dagboek IN STILWEES EN VERTROUE.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/