Hemelse Gesange: 'n 12-dag Leesplan deur Phil WickhamVoorbeeld

Hymn of Heaven: A 12 Day Devotional With Phil Wickham

DAG 3 VAN 12

Kyk na hierdie video met Afrikaanse onderskrifte deur op die video-instellings, subtitels, Afrikaans te klik.

Die Huis van die Here

Skrifgedeelte: 1 Petrus1:8-9 / Jakobus 1:2-3 / Jesaja 35:10

Ek het hierdie liedjie geskryf toe ek dit nie "gevoel" het nie. Ek moes in geloof na God toe kom en glo dat, alhoewel geluk kom en gaan, vreugde altyd in Jesus toeganklik is, ongeag die omstandighede. Ek het dit geskryf om myself te herinner aan wie God is, wat Hy gedoen het en wie ek in Hom is. Teen die tyd dat ek klaar geskryf het, het my perspektief verander. Ek het nie meer gevra: "Hoekom, God?" met 'n kwaai vuis in die lug nie. In plaas daarvan het ek gevra: "Waarmee is U besig, Vader?" met ware opwinding om te sien wat Hy te midde van 'n moeilike tyd gaan doen.

Een van die merkwaardige kenmerke van die Nuwe Testament is hoe dikwels die tema van vreugde in vele briewe deur verskeie skrywers ter sprake kom, te midde van wydverspreide en intense vervolging. Dit was een van die uitstaande kenmerke van die vroeë kerk! Jakobus moedig sy gemeenskap aan: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom …” (Jakobus 1:2). Die apostel Petrus herinner die kerk wat hy lei: "Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Petrus. 1:8-9).

'n Vriend van my het onlangs met my hierdie aanhaling gedeel: "Geluk is gebaseer op geluk, maar vreugde is gebaseer op Jesus." Ietwat "prekerig", ek weet, maar tog so waar! Omdat Jesus gister, vandag en vir altyd dieselfde is, is blydskap altyd in Hom toeganklik. In Jesus is daar altyd lewe, genesing, opstanding, oorwinning, genade, vergifnis en hoop. Dankie, Vader!

Lewe vandag so in vreugde:

1. Die Bybel praat van vreugde, nie net as 'n selfstandige naamwoord nie, maar as 'n werkwoord. Dit beteken ons kan vreugde "kies". Rig jou oë op Jesus, luister na aanbiddingsmusiek en aanbid Hom met blydskap.

2. Galasiërs 5 sê dat blydskap 'n vrug van die Heilige Gees is. Staan 'n oomblik af en bid dat jy vervul sal word met die Gees van God.

3. Maak 'n verbintenis om sommige van die dinge wat jou terneergedruk kan laat, te vervang met maniere om die teenwoordigheid van God binne te gaan.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Hymn of Heaven: A 12 Day Devotional With Phil Wickham

Welkom by die Hemelse Gesange leesplanreeks. Elke daaglikse leesplan val saam met 'n ander liedjie uit my album, "Hymn of Heaven". Hierdie liedjies is geskryf om luisteraars tydens aanbidding te inspireer, en ek bid dat hierdie reeks dieselfde vir jou doen terwyl jy saamlees. Baie dankie aan my vriend en pastoor, Benji Horning, wat my gehelp het om hierdie gedagtes lewendig te maak. Ons bid dat jy geseënd sal wees!

More

Ons wil graag dankie sê vir Fair Trade Services & Phil Wickham wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek: https://philwickham.com/