Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

DAG 13 VAN 43

Lees: Johannes 4:43–54

SOAP: Johannes 4:53–54

"Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom. Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het."

Oordenking

In vandag se Skrifgedeelte vind ons nog 'n verandering van toneel in die evangelie van Johannes. Die toneel begin met Jesus wat van Samaria na Galilea reis. Alhoewel die gebeurtenisse van Jesus se bediening in hierdie evangelie-verhaal nie altyd in chronologiese volgorde is nie, vertel hierdie gedeelte van Jesus se werk op verskillende plekke en tydens sy reise tussen Judea en Galilea.

Kana was 'n stad in die streek Galilea. Die eerste wonderteken wat Jesus gedoen het, was ook in Kana: Hy het water tydens 'n troue in wyn verander. Die toneel waarvan ons vandag lees, speel ook af in Kana en is die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het. Hierdie twee tekens is boekstutte vir hierdie gedeelte van die verhaal en help ons om Johannes se beoogde fokus in te sien: geloof sonder om te sien.

Ons vind groot ooreenkomste tussen die verhaal van Jesus wat die amptenaar se seun genees en die verhaal van die troue in Kana. Hierdie ooreenkomste is nie toevallig nie – dit was Johannes se bedoeling dat sy lesers hierdie ooreenkomste sou herken en die verband kon raaksien.

In albei gevalle is Jesus genader en gevra om 'n wonderwerk te verrig. Die man het Jesus gevra om sy seun te genees en Jesus se moeder het (hoewel indirek) gevra om meer wyn vir die bruilofsfees te voorsien. Jesus het beide sy moeder en die amptenaar daaraan herinner dat sy doel nie was om allerhande wonderwerke te verrig nie; Hy het 'n veel groter doel as dit gehad. Die amptenaar en Jesus se moeder het dit albei verstaan en in geloof gereageer. Hoewel die amptenaar Jesus weer gevra het om sy seun te genees, het hy Jesus se opdrag gehoorsaam om huis toe te gaan. Hy het Jesus geglo en teruggekeer huis toe, al het hy nie gesien hoe Jesus sy seun genees nie.

Beide die tekens wat in Kana uitgevoer is, beklemtoon dat ons geloof in Jesus geloof vereis sonder om te sien. As ons reeds die uitkoms sou sien, was dit nie vir ons nodig om Hom ten volle hier en nou te vertrou nie. Geloof sou nie nodig wees nie. Om te glo dat Jesus die Seun van God is en die enigste weg na die ewige lewe, verg baie geloof sonder om te sien. Nie een van ons vandag het Hom al gesien nie; ons glo op grond van die getuienis van ander, sowel dié wat in die Skrif opgeteken is as dié deur die geskiedenis heen. Hier maak Jesus dit vir ons duidelik dat Hy ons geloof baie op prys stel, veral geloof sonder om te sien.

Dag 12Dag 14

Aangaande hierdie leesplan

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/