Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

DAG 11 VAN 43

Lees: Johannes 3:22–36

SOAP: Johannes 3:35–36

"Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom."

Oordenking

Kom ons kyk weer na ‘n paar fundamentele waarhede oor hierdie vertelling van Jesus se bediening soos ons ons studie van die evangelie van Johannes voortsit. Eerstens is hierdie weergawe nie altyd in chronologiese volgorde nie; hierdie evangelie is saamgestel om aan Johannes se lesers te bewys Jesus is die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe. Die gebeure is so opgeteken dat dit tematies sin maak, en nie altyd in die presiese volgorde waarin dit plaasgevind het nie. Tweedens fokus die eerste twaalf hoofstukke op Jesus se openbare bediening. Hierdie hoofstukke is ‘n weergawe van wat die wêreld Hom gesien doen het en uitsprake oor en deur Hom.

In vandag se Skrifgedeelte word ons weer bekend gestel aan Johannes die Doper, die getuie wat gestuur is om te getuig wie Jesus is. Johannes se oortuiging oor wie Jesus is en wat Hy kom doen het, is vir ons ‘n uitdaging in ons eie geloof. Glo ons werklik hierdie getuienisse oor Jesus? Glo ons dat Hy is wie Hy sê Hy is?

Toe Johannes se dissipels hulle besorgdheid uitspreek dat die mense agter Jesus aan stroom pleks van hom, het Johannes hulle tereggewys. Johannes het geweet sy doel was nie om afbreuk te doen aan Jesus se werk nie, maar om mense na Hom toe te wys. Johannes het onder geen waan verkeer dat Hy die Christus is nie; hy het prontuit verklaar dat dit nie hy is nie, en hulle na die ware Een toe verwys. Johannes se woorde in vers 30 is vir ons ‘n pragtige voorbeeld van hoe ons ons lewens behoort te lei: “Hy moet meer word en ek minder.”

Johannes (die skrywer) sluit hierdie toneel af met ‘n vertelling oor Jesus, die Gestuurde van God. Hy alleen spreek die woorde van God en gee ons die Gees. Die Vader het alles onder sy gesag geplaas—daar is niks wat Hy nie sien of nie weet nie. As ons in Hom glo, ontvang ons die ewige lewe. Johannes maak ons egter ook daarop attent dat ons moet onthou as ons Hom verwerp, gaan ons nie hierdie lewe ontvang nie. Trouens, ons sal God se woede en straf ontvang.

Jesus is die enigste weg na die ewige lewe. Ons ontvang nie die lewe as ons gelyktydig ons geloof in Jesus én ander godsdienste plaas nie. As ons glo enige geloof of god kan ons red, verstaan en glo ons nie werklik in Jesus nie, in wie Hy is en wat Hy gedoen het nie. Hy was nie maar net ‘n goeie leermeester, ‘n goeie man of ‘n profeet nie. Hy is die Seun van God en Hy alleen is die weg na die ewige lewe.

Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/