Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van JohannesVoorbeeld

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

DAG 10 VAN 43

Lees: Johannes 2:23–3:21

SOAP: Johannes 3:16–17

"God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word."

Oordenking

Nikodemus was ‘n intelligente en gerespekteerde man. Hy was ‘n Fariseër en ‘n lid van die Joodse Raad. Die Fariseërs was destyds lede van die belangrikste en invloedrykste godsdienstige en politieke partye in Jerusalem en die omstreke. Hulle was bekend vir hulle streng nakoming van die Ou Testamentiese wette. Nikodemus het ook behoort aan die Sanhedrin, die hoogste gesags-, wetgewende en regterlike liggaam onder die Jode.

Nikodemus kon dalk die Ou Testamentiese wet, die godsdienspraktyke en die politieke klimaat van sy tyd geken het, maar wat hy nie geweet of verstaan het nie, was wie Jesus was. In plaas daarvan om Jesus as ‘n bedreiging vir sy gesag en leefwyse te beskou, het Nikodemus egter besef dat Jesus die weg na die ewige lewe ken. Nikodemus, net soos baie van ons, het gesukkel om te verstaan toe Jesus verduidelik het dat enigeen wat die ewige lewe wou verkry, uit die Gees gebore moes word.

Ons kan net in Jesus Christus nuwe lewe vind. Hy is die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe. Jesus is al een wat die dinge van die hemel ken en verstaan. Geen mens het al ooit hemel toe gegaan en teruggekom aarde toe om hierdie dinge te verduidelik nie. In plaas daarvan het God sy Seun, Jesus Christus, wat in die hemel gewoon het, aarde toe gestuur om vir ons die weg na die ewige lewe te wys. God se wysheid oor Homself het deur Homself, Jesus Christus, na ons toe gekom. Jesus is God en het na ons toe gekom sodat ons Hom kon leer ken.

Jesus het aarde toe gekom sodat diegene wat in Hom glo die ewige lewe kan hê. Ewige lewe beteken meer as oneindige lewe. Dit beskryf ‘n lewe wat hemelsbreed verskil van wat ons ons kan voorstel omdat dit bestaan in die nuwe koninkryk van God met voortdurende, ononderbroke gemeenskap met God. Jesus het gekom om hierdie lewe vir ons te gee, nie om ons te veroordeel nie. Hy het gekom sodat ons, wanneer ons in Hom glo, lewe mag hê. Hy het ons kom verlos. As ons in Hom glo, ontvang ons tot in ewigheid hierdie eindelose, ononderbroke gemeenskap met God.

Ons word nie op hierdie punt in Johannes se evangelie meegedeel of Nikodemus daardie nag gekies het om in Jesus te glo nie. Deur Nikodemus se vraag word al Johannes se lesers (ons ook) egter met dieselfde vraag gekonfronteer: Glo jy dat Jesus die weg na die ewige lewe is? Pleks daarvan om uit vrees vir blootstelling of verleentheid die donkerte op te soek, mag ons die lig opsoek, waar ons nie veroordeling en oordeel sal aantref nie, maar die ewige lewe!

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Ons Sekuriteit Vir Die Ewigheid - Die Evangelie Van Johannes

Die Evangelie van Johannes is ‘n verslag van die lewe van Jesus. In hierdie boek vind ons antwoorde op baie van die lewe se oënskynlik onmoontlike vrae. Deur die lees van hierdie Evangelie kan ons te wete kom wat dit beteken om in Jesus te glo en wat dit beteken om die ewige lewe te hê. As jy al ooit vrae oor geloof gehad het, is hierdie Bybelstudie vir jou.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://lovegodgreatly.com/