Die Lig Op My PadVoorbeeld
Die Here is my rots
1 en 2 Samuel vertel vir ons van al die wedervaringe en heldedade van koning Dawid. Dit is egter nie die hoofrede waarom hy bo alles onthou sou word nie. Deur al die eeue is Dawid geëer as sanger, as psalmdigter. Sy psalms raak ons vandag nog, so direk asof dit net vir ons geskryf is. As hierdie lied van Dawid vir jou bekend klink, is daar ’n rede voor. Dis ook in die Psalms opgeneem as Psalm 18. Waarom staan dit twee keer in die Bybel? Omdat dit so mooi is! sê een kommentator. Aan die einde van sy lewe, toe hy teruggekyk het na wat verby is, kon Dawid nie anders as om te sing nie. Die lang psalm kan in ses dele verdeel word, wat elk iets vertel van Dawid se belewenis van God, van hoe die Here telkens in sy lewe ingegryp het.
Kom ons kyk na die eerste drie dele:
• God is my Rots! (v 1-3). Keer op keer, toe Dawid op vlug was voor sy vyande, was die Here sy veilige vestig.
• Ek het om hulp geroep (v 4-6). Dit het vir die koning gevoel of hy gedurig bespot word, asof die golwe van die dood oor hom gebreek het en hy in die strikke van die dood gevang is.
• En elke keer het die Here gehelp (v 7-20). Die Here het sy geroep gehoor en op ’n ongelooflike wyse tot sy hulp gekom. Die aarde het geskud en gebewe. Uit die hemel het die Here weerligstrale afgeskiet. Die Here het sy hand na die seebodem uitgesteek om sy kind te red.
Kan jy met Dawid saamsing?
Hierdie oordenkings is saamgestel uit DIE LIG OP MY PAD deur Piet Meiring © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Om ’n Christen te wees, is ’n avontuur. Elke dag wag daar nuwe geleenthede én uitdagings, vreugdes én teleurstellings. Genadiglik hoef ons die reis nie alleen aan te pak nie. God het sy Woord aan ons gegee – as lig op ons pad! Meer nog, Jesus self stap saam. Stap saam met Piet Meiring deur 7 oordenkings oor vertroue uit sy dagboek DIE LIG OP MY PAD.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/