Die Lig Op My PadVoorbeeld

Die Lig Op My Pad

DAG 5 VAN 7

Is God dood?

Die 150 psalms is in vyf boeke versamel: Psalm 1-41, 42-72, 73-89, 90-106 en 107-150. Liedere uit die tweede en derde rolle bevat baie liedere waarin ons onsself op ons geloofspad sal herken: gebede om redding en bewaring, lofsange, klaagliedere, gedigte van mense wat op pad was.

Kom ons kyk na Psalm 42. Dit is onseker wie die digter is, alhoewel dit moontlik Dawid self kon wees – op vlug oor die Jordaanrivier, die woestyn in. Ons voel dikwels soos Dawid: Soos ’n wildsbokkie smag ons na God. Maar, sê talle, dis veral vers 4 wat die noodroep van ons tyd is. Die mense spot met my: “Waar is jou God?” Talle mense in ons tyd roep saam. Kyk wat alles om ons gebeur, die pyn en ellende, die onreg. Waar is God? Is Hy dood?

Ek het jare gelede van ’n Nederlander gelees wat na die Tweede Wêreldoorlog vir die leraar op huisbesoek gesê het: “Pardon, Dominee, moenie met my oor God praat nie. Ek was in Dachau!” Die dominee, wat self jare in ’n Duitse kamp deurgebring het, het die gemeentelid met ’n glimlag geantwoord: “Pardon, Broer, ek glo wel in God, want ek was ook in Dachau!” Ná alles wat met hom in die kamp gebeur het, kon die dominee nog altyd saam met Dawid sing: “Vertrou op God! Ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God.”

Sing jy saam?

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Die Lig Op My Pad

Om ’n Christen te wees, is ’n avontuur. Elke dag wag daar nuwe geleenthede én uitdagings, vreugdes én teleurstellings. Genadiglik hoef ons die reis nie alleen aan te pak nie. God het sy Woord aan ons gegee – as lig op ons pad! Meer nog, Jesus self stap saam. Stap saam met Piet Meiring deur 7 oordenkings oor vertroue uit sy dagboek DIE LIG OP MY PAD.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/