Die Lig Op My PadVoorbeeld
Eerste klas of tweede klas?
Watter pragtige psalm is hierdie geloofsbelydenis van Dawid nie! Dawid is so seker van die liefde van die Here, van die feit dat ’n mens altyd op Hom kan vertrou, dat hy nie genoeg woorde kan kry om dit mee te illustreer nie. Kyk maar net hoe stapel hy dit op in vers 7 en 8: “God is my rots … my redding … my veilige vesting … my redding … my krag … my rots … my sterkte … my toevlug.” Dit laat ’n mens dink aan die meer bekende verse uit Psalm 18 wat Dawid aan die einde van sy lewe gedig het. Daar kan Dawid ook nie uitgepraat of uitgesing raak oor die goedheid van die Here nie.
Die baie bekende Amerikaanse prediker van honderd jaar gelede, Dwight L Moody, se geliefkoosde teks was Jesaja 12:2: “God is my redder; ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie.” Moody se kommentaar wanneer hy hieroor gepraat het, was gewoonlik: “’n Mens kan met ’n eersteklaskaartjie of met ’n tweedeklaskaartjie hemel toe reis. Op die tweedeklaskaartjie staan: Elke keer as ek bang is, sal ek vertrou. Maar op die eersteklaskaartjie staan die woorde: Ek sal vertrou, en daarom sal ek nie bang wees nie.”
Dit laat ’n mens terugdink aan Paulus se oorwinningslied in Romeine 8: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.”
Reis jy eerste klas of tweede klas deur die lewe?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Om ’n Christen te wees, is ’n avontuur. Elke dag wag daar nuwe geleenthede én uitdagings, vreugdes én teleurstellings. Genadiglik hoef ons die reis nie alleen aan te pak nie. God het sy Woord aan ons gegee – as lig op ons pad! Meer nog, Jesus self stap saam. Stap saam met Piet Meiring deur 7 oordenkings oor vertroue uit sy dagboek DIE LIG OP MY PAD.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/