Die Lig Op My PadVoorbeeld

Die Lig Op My Pad

DAG 4 VAN 7

Losmaak en vasmaak

Vir Abram, die vyf en sewentig-jarige grysaard, kon dit nie maklik gewees het nie. Trek weg, weg van jou mense, weg van jou familie na die land toe wat God jou sal wys. Eers het Abram saam met sy pa uit Ur van die Galdeërs getrek, na Haran, tussen die twee riviere Tigris en Eufraat. Maar Abram moes verder: weg van die Galdeërs met hul gode na Kanaän waar die Here, die enigste ware God, Hom aan Abram sou bekendmaak. Abram moes wegtrek, losmaak, van alles wat vir hom belangrik was: sy geboorteland, sy tradisie, die gode wat hy aanbid het, sy planne vir hom en sy beeldskone vrou, Sarai. Hy moes sy sekuriteite laat vaar, dit uit sy gemaksone waag.

Dieselfde geld vir ons: Om op God se roeping te antwoord beteken dat ons ook alles waaraan ons vantevore vasgehou het, wat vir ons sekerheid en sekuriteit verseker, eenkant toe moet skuif. Ons moet op God alleen vertrou! Dis wat Jesus van sy dissipels verwag: Om alles prys te gee, om jou kruis op te tel om Hom te volg, al kos dit jou jou lewe.

Maar jy moet nie net laat los nie. Jy moet ook vasmaak, vasgryp. Dis wat Abram geleer het. Hou vas aan God en sy beloftes. Hou vas aan sy hand, leef uit sy Woord. Vir Abram moes dit ongelooflik geklink het: Hy, die vader van ’n groot volk? Hoe kan dit – hy en Sarai is kinderloos! Kon hy raai op watter wonderbaarlike manier sy geloof beloon sou word? Van sy nageslag, van die Redder van die hele wêreld wat uit Israel gebore sou word?

Dink na oor vandag se reis: Wat moet ek loslaat en wat moet ek vashou?

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Die Lig Op My Pad

Om ’n Christen te wees, is ’n avontuur. Elke dag wag daar nuwe geleenthede én uitdagings, vreugdes én teleurstellings. Genadiglik hoef ons die reis nie alleen aan te pak nie. God het sy Woord aan ons gegee – as lig op ons pad! Meer nog, Jesus self stap saam. Stap saam met Piet Meiring deur 7 oordenkings oor vertroue uit sy dagboek DIE LIG OP MY PAD.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/