Die Lig Op My PadVoorbeeld

Die Lig Op My Pad

DAG 6 VAN 7

Wag op die Here

Die boodskap wat Miga moes bring, was genoeg om homself ook moedeloos te maak. Die mense wou nie luister nie. Dit het gelyk asof daar nie eens een enkele gelowige in die land oorgebly het nie. Die regeerders het sy waarskuwings afgelag en rustig voortgegaan met hul onheilswerk. Jy kan niemand meer vertrou nie, nie eens jou beste vriend, jou vrou, jou seun of jou dogter nie.

Maar Miga kon tog sy kop optel. Uiteindelik was sy heil nie van die mense om hom afhanklik nie. “Ek sal op die Here vertrou, ek sal op die Here wag. My God sal my gebed verhoor.”

Dit laat ’n mens aan die aangrypende woorde van Psalm 130:1-6 dink: “Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep. As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien. Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.”

In die geskiedenis het die woorde van Miga en van Psalm 130 ’n besondere groot rol gespeel. Toe Theodorus Beza, die man wat tydens die Reformasie die Psalms berym het, op sy sterfbed gelê het, het hy dié woorde onthou en as laaste gebed gebid. En, het die Metodiste-leier John Wesley vertel, toe hy tot bekering gekom het, was die woorde op sy lippe.

Op ons lang geloofsreis is dit wat ons vandag nodig het: om te bid en te wag.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Die Lig Op My Pad

Om ’n Christen te wees, is ’n avontuur. Elke dag wag daar nuwe geleenthede én uitdagings, vreugdes én teleurstellings. Genadiglik hoef ons die reis nie alleen aan te pak nie. God het sy Woord aan ons gegee – as lig op ons pad! Meer nog, Jesus self stap saam. Stap saam met Piet Meiring deur 7 oordenkings oor vertroue uit sy dagboek DIE LIG OP MY PAD.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/