In Die BeginVoorbeeld
Lees: Genesis 1:20–23; Job 39:29–33
SOAP: Job 39:29–30
"Is dit deur jou insig dat 'n valk vlieg, dat hy sy vlerke na die suide toe span? Is dit op jou bevel dat 'n aasvoël hoog opvlieg en sy nes in die hoogte gaan bou?"
Oordenking
Die skeppingsverhaal wat in Genesis 1 opgeteken is, beskryf sewe dae van skepping. Op die eerste drie dae het God die hemel en die aarde, die waters en die droë land geskep. Op die vierde, vyfde en sesde dag het God dit wat Hy op die eerste, tweede en derde dag geskep het, gevul. Hy het die water met lewende diere gevul en hulle beveel om vrugbaar te wees en te vermeerder. Hy het die lug gevul met voëls en hulle ook beveel om vrugbaar te wees en te vermeerder.
God het vir Job daarop gewys hoeveel Hy omgee en hoe groot sy voorsiening is toe Hy hom aan die roofvoëls herinner het. Dit is deur sy insig dat die valk sweef. Dit is op sy bevel dat die arend vlieg en sy nes bou. God voorsien voedsel vir die arend en sy kuikens, en wys vir hom waar om prooi te soek.
In Jesaja 40:31 herinner God die volk Juda om op Hom te wag, en opnuut deur Hom versterk te word. Hulle sou kon sweef asof hulle arendsvlerke het as hulle op Hom vertrou.
In Matteus 6:25–34 sê Jesus vir sy volgelinge dat hulle hulle nie moet bekommer nie. Hy herinner hulle aan die wilde voëls waarvoor Hy altyd sorg. As Hy ‘n doel en plan het met die skepping van ‘n voël, wat ons dikwels as onbeduidend beskou, het Hy inderdaad ‘n doel en ‘n plan met ons elkeen.
Nogeens word God se kreatiwiteit en plan deur sy skepping vertoon. Hy het alles, selfs die voëls, met ‘n doel geskep. Hy laat ons vlugtige kykies van sy bedoeling met die skepping sien wanneer Hy ons daardeur leer. En net soos Hy vir hierdie voëls voorsien en sorg, sal Hy ook vir jou en my voorsien en sorg.
Gebed
Vader God, U is goed. Help my om u omgee en sorg vir my te onthou as ek die voëls sien. Laat my soos die voëls wees, en my nie bekommer oor wat ek sal eet nie, maar vol vertroue wees dat U sal voorsien wat en wanneer ek iets nodig het. Help my om U te vertrou en my op U alleen te verlaat. Amen
Aangaande hierdie leesplan
In die Begin is 'n ses weke lange Bybelstudie oor Genesis 1-11. Hierdie studie ondersoek die skeppingsverhaal, die oorsprong van die mensdom, die invloed van sonde op die wêreld, die onmiddelike belofte van verlossing, die redes vir die vloed, God se voorsiening vir Noag en sy familie, God se eerste verbond met die mensdom en die geslagsregister van die Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/