In Die BeginVoorbeeld
Lees: Genesis 1:14–19; Job 38:12–18; 31–35
SOAP: Job 38:12–13
“Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad vandaan kom, die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie?"
Oordenking
Een van die mooiste plekke ter wêreld om die sonsopkoms te aanskou, is bo-op 'n vulkaan op die eiland Maui, in Hawaii. Haleakalā is 'n rustende vulkaan waarvan die boonste piek, drie kilometer bo seespieël staan. Die beste manier om die sonsopkoms te aanskou, is om voor dagbreek daar te wees en te kyk hoe die donkerheid van die nag plek maak vir die glorieryke oggendkleure.
Van drie kilometers bo seespieël af is die kruin deur die nag donker en koud. Die sterre en die maan skyn helder, met die kruin wat uitsteek bo enige wolke wat die uitsig kan belemmer. Die eerste ligstraal verlig die horison en verander die swartheid in 'n donkerblou kleur. Met die maan en sterre steeds in die oog, verander die donkerte stadig in skakerings van blou, pienk en geel soos die son na die horison kruip. Die wolke wat onder die kruin sit, rol en vou onder die opkomende lig.
Uiteindelik verlig 'n groot uitbarsting van geel en wit lig alles wat in sy pad kom terwyl die son oor die horison piek. Elke oomblik kom daar meer lig na vore wat alles verander. Die aarde word verlig en wys die uitgestrektheid van die vulkaniese landskap. Die wolke begin breek en bied 'n blik op die oseaan en die vulkaniese pieke op die eiland, Hawaii. Na so 'n ervaring kan 'n mens nie anders as om God se woorde aan Job te onthou nie: "Het jy die oggend ooit in jou lewe beveel of die dagbreek sy plek laat ken?"
God het die son, maan en sterre met 'n spesifieke doel geskep. Hulle is seine wat tyd en seisoene aankondig, hulle gee lig op die aarde, en hulle skei lig van duisternis. Elke oggend herinner God ons aan sy opperheerskappy en karakter. Of ons nou die oggendskemering bo-op 'n vulkaan besigtig of deur die lig wat in ons huise instroom, ons God het steeds daardie oggend geroep. Hy is elke dag in beheer. En sonder versuim voorsien Hy elke dag 'n nuwe oggend met nuwe herinneringe aan sy liefde en trou.
Gebed
Here, ek loof U vir u ongelooflike krag en kreatiwiteit. U beveel elke môre om te kom. U alleen sê vir die dagbreek wanneer om te breek. U bring lig na die wêreld, en U bring lig in my lewe. Help my om u ongelooflike trou vandag raak te sien. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
In die Begin is 'n ses weke lange Bybelstudie oor Genesis 1-11. Hierdie studie ondersoek die skeppingsverhaal, die oorsprong van die mensdom, die invloed van sonde op die wêreld, die onmiddelike belofte van verlossing, die redes vir die vloed, God se voorsiening vir Noag en sy familie, God se eerste verbond met die mensdom en die geslagsregister van die Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/