In Die BeginVoorbeeld

In Die Begin

DAG 5 VAN 43

Lees: Genesis 1:9–13; Job 38:8–11

SOAP: Genesis 1:9–10

"Toe het God gesê: 'Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word.' So het dit gebeur. God het die droë grond 'aarde' genoem, en die waters wat bymekaargekom het, het Hy 'see' genoem. En God het gesien dit is goed."


Oordenking

Op die derde skeppingsdag het God die aarde gestalte gegee. Die aarde was net water, volgens wat ons uit Genesis 1:1 kan verstaan. God het eers die waters in twee verdeel en die hemelruim geskep. God het van die water in die lug geplaas en van die water op die aarde.

Op die derde dag het God die waters op die aarde in seë verdeel en droë land geskep. God het grense aan die water gestel en dit opdrag gegee tot waar dit mag gaan en waar nie. God het perke aan die golwe gegee en droë land geskep.

In die Bybelse tyd, tot in die eerste eeu, is die see as 'n plek van duisternis beskou. Hulle het nie die soort toerusting gehad wat ons vandag het nie, en dit was moeilik om die water oor te steek, dikwels dodelik. Daar was selfs visse wat groot genoeg was om 'n mens heel in te sluk (Jona 1:17)! Dit gee ons 'n groter begrip van die intense vrees wat Jesus se dissipels ervaar het toe hulle storms in die See van Galilea teëgekom het. Die see was ‘n onbekende, skrikwekkende plek waar baie mense hulle lewens verloor het.

Maar God het gesê dat die see goed was. God het die see met 'n doel geskep, net soos Hy die hemel met al sy elemente met 'n doel geskep het, net soos Hy die droë land met plantegroei en vrugte vir 'n doel geskep het.

Dit kan aanloklik wees om vreesbevange na die "see" in ons eie lewens, die beproewinge, versoekings, swaarkry en pyn te kyk. Ons weet nie wat sal gebeur nie. Baie dinge is buite ons beheer en dit kan maklik wees om God se sorg en voorsiening vir ons te vergeet as ons oorweldig word deur vrees. Net soos God die see met ‘n doel geskep het, het elke omstandigheid in ons lewe 'n groot doel. God het ons nie verlaat nie, en Hy is steeds in beheer.

Hy het perke vir die golwe gestel; die besonderhede van ons lewens is vir Hom belangrik. 



Gebed

Vader, U is oppermagtig oor die hele skepping, selfs die perke van elke liewe golf. U het die see met ‘n doel geskep, en U het 'n doel met alles wat U in my lewe toelaat. Gee my asseblief geduld om op u tydsberekening en u plan te wag wanneer ek bang en onseker is. Ek glo U is met my. Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

In Die Begin

In die Begin is 'n ses weke lange Bybelstudie oor Genesis 1-11. Hierdie studie ondersoek die skeppingsverhaal, die oorsprong van die mensdom, die invloed van sonde op die wêreld, die onmiddelike belofte van verlossing, die redes vir die vloed, God se voorsiening vir Noag en sy familie, God se eerste verbond met die mensdom en die geslagsregister van die Messias.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://lovegodgreatly.com/afrikaans/