In Die BeginVoorbeeld
Lees: Genesis 11:1–9; Jesaja 55:8–9
SOAP: Jesaja 55:8–9
“'Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie' spreek die Here, 'want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.'”
Oordenking
Toe die mense op die aarde hulle in Sinar vestig, het hulle 'n toring en 'n stad gebou tot hulle eie roem. Hulle begeerte was om op een plek bymekaar te bly, waar hulle regoor die wêreld bekendheid sou verwerf. Hulle was van plan om te bly waar hulle hulle gevestig het en het in opstand gekom teen God se opdrag om die hele aarde te vul.
God het die mense in hul spore gestuit, hulle taal verwar en hulle van mekaar vervreem. Hulle is noodgedwonge versprei en het op nuwe plekke gaan woon omdat hulle mekaar nie kon verstaan nie. Dit het God in staat gestel om sy doel vir die mensdom te bereik en die hele aarde te vul. Hulle trots het daartoe gelei dat hulle teenoor God ongehoorsaam was terwyl hulle probeer het om bo God bekendheid te verwerf.
God se optrede in hierdie verhaal mag drasties klink, om gesinne en gemeenskappe te versprei, geskei deur taal. God het 'n groot plan en doel vir die mensdom gehad, een waarteenoor die mense direk ongehoorsaam was. God se opdrag aan hulle was om oor die aarde te versprei en die aarde te vul en om sy Naam en mag bekend te maak. In plaas daarvan om op God se heerlikheid te fokus, het hulle hulle eie gesoek.
Alhoewel God se planne nie altyd vir ons sin maak nie, kan ons gerus wees dat Hy steeds in beheer is. Sy planne en optredes, soos om 'n verdorwe stad vry te spreek of om mense oor die aarde te versprei, mag ons skok. Dit is nie ons planne nie. Wanneer God se optrede nie vir ons sin maak nie, kan ons vrede en sekerheid in sy karakter vind. Hy is goed, heilig, kragtig, medelydend, barmhartig, genadig en liefdevol. Ongeag van hoe Hy optree, kan ons weet dat sy karakter sal nooit verander nie.
Gebed
Here God, ek vertrou u planne. Help my om op U te vertrou wanneer ek nie u dade verstaan nie. U weë is hoër as myne. Wys my meer van u karakter as u optrede my verwar. Help my om op U te vertrou, al verstaan ek nie wat U besig is om te doen nie. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
In die Begin is 'n ses weke lange Bybelstudie oor Genesis 1-11. Hierdie studie ondersoek die skeppingsverhaal, die oorsprong van die mensdom, die invloed van sonde op die wêreld, die onmiddelike belofte van verlossing, die redes vir die vloed, God se voorsiening vir Noag en sy familie, God se eerste verbond met die mensdom en die geslagsregister van die Messias.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/