Vroue Van Die WoordVoorbeeld

Vroue Van Die Woord

DAG 3 VAN 14

Ons Meesterkok (deur Greta Serfontein)

Vra mense jou ook gereeld wanneer die volgende fase van jou lewe gaan aanbreek? Klink enige van hierdie vrae vir jou bekend: Is jy nog nie in ’n verhouding nie? Wanneer beplan julle om te trou? Wanneer kom die baba? Wanneer gaan jul vir jul kleinding ’n boetie of sussie gee? Waar het julle gedink om af te tree? Wanneer gaan jy ouma word?

Mense vra hierdie vrae met die mooiste bedoelings. Om daardie vrae te antwoord, is egter nie altyd maklik nie. Omdat ek ook gereeld hierdie tipe vrae ontvang en soms onder druk voel en moedeloos raak, het ek biddend gaan nadink oor ’n antwoord wat die persoon wat die vraag vra eer sowel as die Een wat die tyd van alles in my lewe bepaal. Mag hierdie antwoord jou ook dien.

Ek glo dat die lewe ’n fees is aan God se tafel waar nie een dis beter as die volgende een is nie. Die canapés moet net soos die voorgereg, hoofgereg en nagereg tydsaam waardeer en geniet word. Elke faset van elke dis is noukeurig uitgekies deur die Meesterkok wat ons aan sy tafel laat aansit (Ps. 23). Ek het die keuse gemaak om die handewerk van my Meesterkok te waardeer en nie my huidige fase om te wens nie.

Waarom sou ek aan die feestafel van my Meester die voorgereg wou afsluk as ek weet dat Hy op sy bestemde tyd die hoofgereg sal inbring! Ek vertrou Hom mos met sy voorbereiding en sy tyd is beter as my gejaagde ingesteldheid.

Here, soms raak ek angstig omdat dinge nie vinnig genoeg gebeur nie. Help my om te onthou dat U besorg is oor die kleinste detail van my lewe en dat ek U kan vertrou met my toekoms. Amen.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Vroue Van Die Woord

Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.

More

Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za