Vroue Van Die WoordVoorbeeld

Vroue Van Die Woord

DAG 4 VAN 14

Maar dít staan vas (deur Angelique Havenga)

Ons leef in ’n wêreld wat voortdurend verander. Modes verander; die produkte op winkelrakke verander; die nuus op die radio en TV verander byna elke uur. Ek en jy verander ook: Ons ontwikkel nuwe belangstellings, ons bevind ons telkens in ’n nuwe lewenseisoen, ons verhoudings verander en groei, en ons sien hoe ons eggenoot, kinders en ouers ouer word en (soos ons) nuwe lewensfases betree.

En verandering is vreesaanjaend. Die onsekerheid van wat die toekoms vir my en my gesin inhou, maak ons dikwels bang. Dit is in súlke tye dat die versoeking bestaan om aan aardse dinge (soos geld, vriende en familie) wat ons veilig laat voel, vas te hou. Maar ook hierdie dinge skep maar ’n blote illusie van standvastigheid en kan in ’n oogwink verander.

Daar is egter een konstante waaraan ons in tye soos hierdie kan vashou: God se troue liefde. Sy verbondsliefde vir ons sal altyd vas bly staan. Deur die hele Ou Testament word die Hebreeuse woord gesed gebruik om God se liefde vir sy volk Israel te beskryf. Hierdie liefde is ’n onvoorwaardelike en onveranderlike liefde – ten spyte van hul ongehoorsaamheid en ontrouheid.

In hierdie wêreld van gedurige verandering kan ons in God se gesed, sy troue liefde, rus. In die onsekere tye waar ons oorweldig, beangs of bang voel, kan ons troos en bemoediging in God se onveranderlike, standvastige liefde vind. Hy is die barmhartige en genadige God, lankmoedig en vol liefde en trou … Nou en vir altyd.

Hemelse Vader, vandag gee ek vir U al my bekommernis en vrese. Vul my opnuut met die vertroosting en bevestiging van u konstante teenwoordigheid in my lewe. Amen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Vroue Van Die Woord

Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.

More

Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za