Vroue Van Die WoordVoorbeeld
Ek kamp nie! (deur Fralene van Zyl)
Ons hoor baie hierdie woorde: “Ek kamp nie!” Party mense is baie lief vir kamp, ander glad nie. Jy moet soms dapper wees om te kamp; om op die grond te slaap, kampkos te eet, ablusiegeriewe met vreemdelinge te deel, en oordadige kontak met die natuur is sommer net grillerig. In Rigters, een van die mees opwindende en aksiebelaaide boeke van die Ou Testament, lees ons van ’n kampstorie met Debora en Jael as hoofkarakters.
Debora was ’n profetes, wat saam met Barak ’n weermag opgerig het om te gaan oorlog maak teen Sisera. Ons sien Debora se ongelooflike dapperheid en geloof.
Tog is Debora nie die enigste dapper vrou in hierdie verhaal nie. Ons lees van Jael, die vrou van Geber, ’n bondgenoot van Sisera wat vir hom skuiling en veiligheid bied in haar tent. Sy steek vir Sisera weg, gee vir hom iets om te drink en daarna deurboor sy sy skedel met ’n tentpen. Jael gaan teen die gebruiklike gasvryheid, lojaliteit en erekode van die tyd in, en gee vir Sisera oor aan Barak.
Wat kan hierdie gewelddadige verhaal vir ons leefwêreld beteken? Sonder hierdie vreeslose bravade en geloof van Debora en Jael sou die Israeliete nie hulle vryheid kon terugkry nie.
Waar in jou lewe vra die Here dalk vir jou om dapper te wees? Waar in jou lewe moet jy vreeslose geloof beoefen? Het jy dalk ’n stukkie bravade nodig in jou persoonlike lewe, jou huwelik, by jou werk, in jou gemeenskap?
Here, ek bid vandag dat ek dapper sal wees daar waar dit nodig is; dat ek soos Debora vreesloos sal glo in u voorsiening, in die manier wat U u beloftes nakom. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.
More
Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za