Vroue Van Die WoordVoorbeeld

Vroue Van Die Woord

DAG 11 VAN 14

Waarmee is jy besig? (deur Tinkie M Kotzé-Van Zyl)

Marta is ’n voorslagvrou, knap, ’n raakvatter. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy weet wat sy doen … of weet sy?

Jesus sien haar besigwees – hoe sy rondspring om alles gedoen te kry. Hy laat haar begaan. Tot sy by Hom kom kla oor sy nie alles alleen kan doen en ander kan oortuig om te deel in haar rot-resies nie. Ons het simpatie met Marta – niemand hou daarvan om meer as ons deel te doen en ander sit net rond en doen niks nie, selfs al is dit vir ’n goeie saak. Jesus bring met geduld in sy stem haar gemoed tot bedaring. “Ek sien, Marta, alles wat jou bekommer en nog ’n klomp ander emosies wat jy nie noem nie. Ek verstaan dat jy graag alles perfek reg wil klaarkry … jou besigwees met goedjies wat vir jou belangrik is. Die probleem is egter al hierdie goed gebruik jou tyd en vermoei jou liggaam en gees. En dan het jy nog nie eens tyd saam met My deurgebring nie.”

Ons het almal jare se doenlysies waarmee ons die rakke van ons lewe vollaai. Dagboeke vol aktiwiteite … Jesus sê stop. Begin oor met wat jy moet doen. Begin met jou tyd – by My. Want as ons ons tyd en doenlys vir God gee, verskuif ons fokus en dra ons doen ’n ander energie. Want dan weet ons die Here is by ons, Hy help ons, Hy leer ons.

Die Here nooi ons om ons lysies van doen daagliks eerste met Hom te deel sodat dit ons nie oorweldig en uitmergel nie. As jy jou beste wil doen, kies die beste manier – begin by Jesus.

Dankie, Here, dat ons almal iets het om te doen. Maak asseblief ons besigwees sinvol en lekker – vol van u teenwoordigheid en rigting. In Jesus se Naam. Amen.

Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Vroue Van Die Woord

Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.

More

Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za