Vroue Van Die WoordVoorbeeld

Vroue Van Die Woord

DAG 12 VAN 14

Aan wie leen jy jou ore uit? (deur Tinkie M Kotzé-Van Zyl)

Nuus, sirenes, alarms, blaffende honde, advertensieklingels, duisende stemme …

Mense hou van geraas. Die meeste mense vermy stilte. Mense laat toe dat hul gedagtes gevul word met ander se opinies, hulle vul hul energiespasies met aanhoudende musiek.

Maria gaan sit by Jesus se voete met haar kop naby sy mond sodat sy kan hoor wat Hy sê. Al die mense om haar wat praat en eet en kos bedien, versteur haar nie. Sy sit by Jesus om na Hom te luister. Dit is vir die meeste van ons ’n kuns om God se stem te hoor – veral in die harwar van ons lewe. Dit is amper asof ons verslaaf raak aan geraasbesoedeling om weg te kruip vir die paadjies van ons eie gedagtes.

Daarom is alles wat kan praat en musiek maak in ons huise aan … en ons woorde en dade word tweedehands; die eggo’s van ander se denke en opinies. Dit laat ons moeg en oorweldig. Ons herken nie meer ons eie stem nie, laat staan nog die Here se stem. Ons agendas dra uiteindelik ander se belange, meer as dit waarvoor ons oorspronklik geroep is.

Jesus vat die probleem vas met een woord: KIES. Kies jou lawaai, kies die stemme wat jy wil hoor. Maar kies bo alles eers om God se stem te hoor. Gaan sit by Hom. Laat sy woorde jou vul. Laat Hy jou gees kom aanraak en jou verstand met kennis en wysheid kom oortuig. Hoor God se stem.

As jy goed wil wees in wat jy sê, doen en dink, kies die beste – Maria het. Sy het Jesus se woorde gekies – dit haar eie gemaak en uiteindelik daarvolgens gelewe.

Here, gee asseblief vir ons die moed om die stilte op te soek. Om daadwerklik en met afwagting by U te kom sit. Laat ons binne-oor fyn oplet na die nuanses van u stem. Amen.

Dag 11Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

Vroue Van Die Woord

Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.

More

Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za