Vroue Van Die WoordVoorbeeld
Die Here ken jou (deur Annemarie Botes)
Die Here het jou geken nog voor jy verwek was. Voor jou geboorte reeds het Hy jou geken, Hy het geweet wat jou talente is, Hy het geweet watter spesifieke gawes jy het. Hy het jou geheilig, jou as profeet aangestel. Hoe spesiaal en waardig is jy dat God reeds met jou moeite doen, jou reeds identifiseer vóór jou geboorte. Die Here wil hê jy moet weet dat Hy sy oog op jou het, dat jy sy gunsteling is, dat Hy altyd beskikbaar is vir jou en altyd by jou is.
Die tye wanneer jy alleen en verlore en verlate voel, is wanneer jy God se hand gelos het. Die Here los nooit jou hand nie. Ons los sy hand omdat ons in eie krag probeer om situasies op te los. Ons dink ons kan die uitkoms manipuleer sodat dit is wat ons wil hê.
Wanneer los jy God se hand? Gryp elke dag sy hand styf vas, veral as jy oorweldig word deur die dinge van die wêreld. God ken jou en weet reeds wat jou “planne” gaan wees om die wêreld te oorleef, en Hy wag daar reg langs jou sodat jy net sy hand moet vat om jou te lei en te help. Moenie sy hand los nie, want dan is jy soos ’n dobberende bootjie sonder ’n anker.
Here, help my om elke dag te onthou U ken my en U kyk na my. Help my sodat ek altyd bewonderend na U sal kyk soos ’n klein dogtertjie na haar Pappa. Dankie dat ek so spesiaal vir U is en dat ek u gunsteling is. Amen.
Hierdie oordenkings is saamgestel uit VROUE VAN DIE WOORD, ’n samestelling deur Jannie Pelser © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.
More
Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za