Vroue Van Die WoordVoorbeeld

Vroue Van Die Woord

DAG 10 VAN 14

Moenie God se vermoë om jou te help, beperk nie (deur Darelize Meyer)

Soms is ons situasie so oorweldigend dat ons omstandighede vir ons ’n groter realiteit as God word. Dan gaan dit nie daaroor dat ons op geloof moet fokus nie, maar eerder oor die mate waarin ons oorgee aan die Here en op Hom en sy vermoë staatmaak. Dink byvoorbeeld aan die Israeliete wat vir sewe dae lank om Jerigo moes stap sonder om ’n woord te sê. Ek wonder of die gedagte was dat hulle heeltyd net op God as hul enigste uitkoms moes fokus. Hý het die muur voor hulle laat intuimel.

Soms vergeet ons dat God nie net groot is nie, maar in soveel meer dimensies as ons funksioneer dat Hy deur mure kan loop; dat tyd vir Hom stilstaan en dat Hy ’n weermag van tienduisende in een asem wegblaas. Hy is die begin en die einde, Hy is almagtig en niks is vir Hom onmoontlik nie.

“Julle moet geloof in God hê! Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees” (Mark. 11:22-24).

Ons moet geduldig wees en volhardend in geloof vir wysheid vra sodat ons ook kan sien wat God sien. Moenie jou ore uitleen vir die nuus of ander se opinies nie; of selfs uit jou emosie reageer nie. Laat God toe om die laaste sê te hê in hoe jy jou lewe leef.

Vader, maak asseblief my oë oop sodat ek die omvang van u almag en die grootheid van u krag kan sien en daaruit kan leef. Amen.

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Vroue Van Die Woord

Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.

More

Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za