Vroue Van Die WoordVoorbeeld

Vroue Van Die Woord

DAG 6 VAN 14

Om te glo, beteken om te vertrou (deur Riana Jordaan)

Die naam Habakuk kom van die Hebreeuse woord wat omhels beteken. Habakuk se naam het dus vertel van die ondersteunende liefde waarmee God hom omvou (omhels) het, maar ook van ’n man se vasklou (omhelsing) aan God se wysheid.

Die Galdeërs was op pad om Jerusalem binne te val en die stad se mense gevange te neem. Habakuk het gesien wat rondom hom gebeur en hy het nie geskroom om God van sy angs en vrees en verwildering en niks-verstaan te vertel nie. Maar omdat God te midde van dit alles steeds God in sy lewe gebly het, het hy meer as net dit gedoen. Hy het besluit om nie van God af weg te stap net omdat hy niks verstaan het nie, maar soos ’n wagter op ’n uitkyktoring te wag totdat God sy vrae beantwoord.

Wanneer ’n wagter op ’n uitkyktoring gaan staan, draai hy letterlik sy rug op die gang van die alledaagse lewe binne-in die stadsmure en rig sy oë met ’n wakkerheid op dit wat buite die stadsmure gebeur.

Wanneer die lewe dus vir jou onverstaanbaar raak en jy besluit om soos Habakuk op ’n geestelike uitkyktoring te gaan staan, beteken dit dat jy vir die oomblik jou gedagtes wegdraai van dit wat in jou lewe gebeur en stil word by God. Dit is egter ’n stilword met ’n wakkerheid en gespitste ore vir dit wat God vir jou wil sê. Wanneer ons by God stil word en luister, fluister Hy in ons harte en ons ore. Hy verander ons binnekant en sê vir ons wat om te doen. En omdat ons in Hom glo, vertrou ons Hom met ons hele lewe.

Here, verlammende twyfel kom sit so maklik in my vrouehart vas. Ek kom word nou stil by U sodat U daardie twyfel in absolute vertroue in U kan verander. Amen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Vroue Van Die Woord

Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.

More

Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za