Vroue Van Die WoordVoorbeeld

Vroue Van Die Woord

DAG 5 VAN 14

Daar is ’n weg wat reg lýk, maar is dit? (deur Ilse Kleyn)

Ek lees die stuk in die Woord waar Lot en Abraham se paaie skei en waar Lot land moes kies. Hy het die beste land gekies met die meeste water en weivelde vir sy vee. Hy het sy gesonde verstand en logika gebruik om ’n baie belangrike keuse in sy lewe te maak.

Hoeveel keer ’n dag doen ek nie maar presies dieselfde nie? Ek neem besluite oor wat vir my die beste lyk.

Die uiteinde van Lot se “goeie besluit” was dat hy letterlik met die klere op sy rug die berge in moes vlug. Hy het alles verloor. Sy besittings, eiendom en ook sy vrou.

Abraham het gekies om God te vertrou en die seëninge het net toegeneem. Hy het sy land van gemak verlaat en God gevolg.

Die wêreld leer ons dat God vir ons ’n gesonde verstand gegee het en dat ons dit moet gebruik. Ons maak keuses op grond van omstandighede (wat so gou kan verander), ons kennis en ons ervarings van die verlede. Maar soveel keer ook op grond van vrees.

Ons vergeet dat God buite tyd staan en reeds die antwoord het – reeds die uiteinde kan sien en dat Hy smag om jou as sy kind te lei op die regte pad wat na lewe in oorvloed lei. Die Woord sê ons moet soos kindertjies wees – afhanklik van hul ouers. Hulle vertrou hul ouers om die beste vir hulle te kies. Kom ons nader God vandag eerste met ons keuses. Ek is seker jy sal sien dat God goed is en jou soms lei op ’n pad wat logika nie sou kies nie, maar die uiteinde daarvan lei tot lewe en seën en nie dood nie.

Heilige Gees, leer my om elke besluit voor God se troon te lê en nie staat te maak op wat reg lyk en wat my logika vir my sê nie. Amen.

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Vroue Van Die Woord

Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.

More

Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za