Vroue Van Die WoordVoorbeeld

Vroue Van Die Woord

DAG 2 VAN 14

Hoe kan ek leer om God se stem te hoor? (deur Rosanne de Lange)

Om God se stem te hoor, is ’n leerproses omdat ons sy stem in ons nuutgemaakte gees moet onderskei. Dit gebeur selde dat Hy met ons in ’n hoorbare stem praat omdat die sintuie van die gees nie soos ons normale sintuie funksioneer nie.

Verder is daar ook die stem van die vyand of bose geeste wat aan ons leuens wil vertel om ons weg te hou van God se wil vir ons lewens.

Die Here se weg is altyd die beste vir ons en ons moet onthou dat Hy altyd ’n ewige uitkyk het met alles wat in ons lewe gebeur. Die uitdaging is om so naby aan God te wandel dat ons sy stem kan hoor en sy wil verstaan om daarvolgens te wandel.

Die stem van God sal vrede in ons harte bewerkstellig. Die vyand se stem bring vrees, angstigheid, is haastig en wil ons dwing om sekere aksies te neem. God se stem dra outoriteit, is kalm en bring vrede.

Dit is belangrik om alles wat ons hoor en enige aksie wat ons wil neem aan die Bybel te toets omdat God nooit iets sal sê wat sy Woord weerspreek nie.

Uit ondervinding leer ons dat dit ’n pad van geloof is. Deur geloof en deur die Vader se leiding sal Hy ons voete rig om op die regte pad te bly al maak ons soms foute en hoor nie reg nie.

Die Vader wil hê dat ons in afhanklikheid van Hom, in geloof, moet lewe. Intimiteit in hierdie verhouding word bewerkstellig deur op Hom te wag om sy stem te hoor en dan aan Hom gehoorsaam te wees.

Abba Vader, help my om te leer om u stem daagliks te onderskei sodat ek op intieme wyse die pad saam met U kan stap. Amen.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Vroue Van Die Woord

Ons realiteit is een van gejaagdheid, moedeloosheid, vrees en angstigheid oor die toekoms. Maar keer op keer herinner God ons deur sy Woord wie ons is en dat Hy Hom oor ons ontferm. Kyk verby die dominante storie van vrees en moedeloosheid en sien dat God se pad met jou ’n pad van deernis en liefde is. Hierdie oordenkings kom uit Jannie Pelser se samestelling VROUE VAN DIE WOORD.

More

Ons wil Christian Art Publishers bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting besoek: https://www.cumbooks.co.za