In stilwees en vertroueVoorbeeld

In stilwees en vertroue

DAG 4 VAN 10

Vertrou op God se voorsiening 

In vers twee tot vier sê God vir Elia om by die spruit Krit te gaan sit. Daar sou God hom van kos voorsien totdat die spruit opdroog. Toe het God hom aangesê om na die weduwee toe te gaan. God het in al Elia se behoeftes voorsien – fisies en geestelik. Al wat Elia moes doen, was om op God te vertrou en te doen wat Hy vir hom gesê het om te doen. Dis interessant dat God hierdie weduwee, wat letterlik niks gehad het nie, gekies het. Sy was besig om die laaste maaltyd vir haar en haar seun voor te berei. Hulle het niks meer kos oorgehad nie, en sou na hulle laaste maaltyd sekerlik van honger gesterf het. 

Toe Elia haar vir brood vra, het hy alles van haar gevra. Dit was al wat sy gehad het. Die versoek het egter ’n belofte ingehou: As sy vir hom kos gee, sal die meel in die pot nie opraak nie, en ook nie die olie in die kruik nie. Dit was ’n ongelooflike belofte! Sy het gekies om Elia te glo, en God het, getrou aan sy Woord, sy belofte gehou. Daar is vir ons ook lesse te leer uit hierdie verhaal. Elia kon God bevraagteken het omdat Hy hom gestuur het na ’n arm weduwee wat niks gehad het nie – waarom hom dan nie liewer stuur na mense wat vir hom kos sou kon gee nie? Hy moes vertrou dat God geweet het wat Hy doen. Die weduwee moes vertrou dat God sy belofte sou hou. Sy het gekies om gehoorsaam te wees en het die laaste van haar brood gegee. 

Nie een van hulle het God se woord in twyfel getrek nie. Hulle het gekies om Hom te vertrou en God het sy beloftes uitgevoer. Wat van jou? Wat vra God vandag van jou? As jy na jou situasie kyk, sien jy dalk geen logika daarin nie. Dalk verstaan jy glad nie wat God beplan nie. Jy weet net dat Hy jou roep. Gehoorsaam Hom! Vertrou op Hom! Hy sal jou nie in die steek laat nie. As Hy vir jou sê om iets te doen, sal Hy sorg dat dit gebeur. Sy weë is nie ons weë nie. 

My Vader, ek dank U vir vandag se bemoedigende Skrifgedeelte. Here, ek weet dat as U vir Elia kon help, U dit vir my ook sal doen. Ek weet dat U min kan neem, en dit tot baie kan vermeerder. Niks is vir U onmoontlik nie. Amen.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

In stilwees en vertroue

God sal jou nie in die steek laat nie. Wees gehoorsaam aan Hom en vertrou op Hom bo enigiemand en enigiets anders in jou lewe. Dít is Angus Buchan se boodskap wanneer hy jou deur persoonlike ervarings en Bybelse waarhede aanmoedig om te vertrou op die enigste Een wat altyd daar sal wees vir jou. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN STILWEES EN VERTROUE deur Angus Buchan.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/