In stilwees en vertroueVoorbeeld
God kyk na die hart
Het jy al ooit na iemand gekyk en gewonder hoekom God hulle vir ’n spesifieke taak gekies het? Van nature neig ons om te bevraagteken wat God in daardie persoon sien. Die waarheid is egter dat God nie op die manier oordeel waarmee ons oordeel nie. In vandag se Skrifgedeelte sien ons dit duidelik. Hy sê vir Samuel: “Want nie wat die méns sien, sien God nie.” God sê vir Samuel Hy “sien die hart aan”. As God na jou hart kyk, wat sien Hy?
Sien God iemand wat Hom bo alles en almal liefhet? Hy is ’n jaloerse God en Hy wil nie hê dat enigiets of enigiemand vir ons meer belangrik moet wees as Hy nie. Dawid het God liefgehad en Hom geken. Terwyl hy sy pa se skape opgepas het, het hy baie tyd gehad om te groei in sy verhouding met God. Hy het geleer om op God te vertrou en hy het geweet dat God hom sal beskerm en bewaar. Om op God te vertrou, het beteken dat hy bereid moes wees om Hom te gehoorsaam, selfs toe alles teen hom getel het. Dit is hoekom hy Goliat kon aandurf.
Jy kan jou hartsgedagtes vir die meeste mense wegsteek as jy hard genoeg probeer. Wel, ten minste vir ’n rukkie. Jy ken die gesegde om mense ’n “rat voor die oë te draai” – wel, dit werk nie altyd so nie. Jesus het die volgende hieroor gesê: “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond” (Lukas 6:45). Wanneer ons onder druk is, is hierdie gesegde waar: “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.” Vertrou jy op God as dit sleg gaan? Is Hy die Een na wie toe jy draai?
My Vader, ek is in verwondering oor u vertroue in my. U sien tot in my hart, en ek dank U daarvoor. Dit is wat U in my sien wat die verskil maak. Vader, help my om op U te vertrou ongeag wat gebeur. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
God sal jou nie in die steek laat nie. Wees gehoorsaam aan Hom en vertrou op Hom bo enigiemand en enigiets anders in jou lewe. Dít is Angus Buchan se boodskap wanneer hy jou deur persoonlike ervarings en Bybelse waarhede aanmoedig om te vertrou op die enigste Een wat altyd daar sal wees vir jou. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN STILWEES EN VERTROUE deur Angus Buchan.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/