In stilwees en vertroueVoorbeeld

In stilwees en vertroue

DAG 8 VAN 10

Geloof in aksie 

Soms veroorsaak ’n verhouding met God skeiding. Wat beteken dit? Dit beteken   wanneer jy die Here leer ken, bring dit soms situasies van skeiding mee. Dit is wat met Abraham gebeur het. Hy moes sy huis verlaat en na ’n ander bestemming reis. Abraham moes in geloof wandel en op God vertrou om sy beloftes aan hom na te kom. Wanneer jy die Here as Persoon en persoonlike Verlosser leer ken en in geloof wandel, kan dit ’n situasie meebring waarin jy skeiding ervaar. 

God roep jou dalk om as sendeling in ’n vreemde land te gaan werk. Hy kan vir jou   sê om jou werk te bedank en Bybelkollege-klasse by te woon. Die Heilige Gees kan   jou oortuig van ’n verkeerde verhouding en dat jy ’n einde daaraan moet maak.   Om Jesus te volg, vra opoffering; dit vra dat jy jou kruis opneem en Hom volg. Dit behels selfverloëning. Soms vind skeiding plaas omdat vriende, wat deel was van jou ou lewe, nie langer jou vriende wil wees nie. Hulle dink jy is nie meer pret nie. 

Dit kan ook wees dat jý juis die een is wat by die werk moet wegstap van onkuise   geselskap. Jy mag nie langer deurnag saam met die manne in die kroeg kuier nie. Om dit reg te kry, vereis dat jy God vertrou. Jy moet Hom ken en seker wees jy glo dat Hy weet wat die beste vir jou is. Jy moet bereid wees om op Hom te vertrou, ten spyte van alles. Mense kan dalk vir jou sê jy is gek – wie sal dan nou al die dinge opgee om ’n onbekende God te dien? Wees bly; jy is in goeie geselskap; Abraham het, en hy staan deur al die eeue bekend as ’n vriend van God. Is dit hoe jy wil hê God jou ook moet beskryf?  Indien wel, wees gehoorsaam aan Hom, vertrou op Hom bo enigiemand en enigiets anders in jou lewe. “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën … en My volg.” 

My Vader, ek dank U dat U die enigste Een is wat ek kan vertrou. Ongeag wat gebeur, U sal my nooit begewe en my nooit verlaat nie. Help my om getrou te wees aan u stem terwyl U my lei. Amen.

Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

In stilwees en vertroue

God sal jou nie in die steek laat nie. Wees gehoorsaam aan Hom en vertrou op Hom bo enigiemand en enigiets anders in jou lewe. Dít is Angus Buchan se boodskap wanneer hy jou deur persoonlike ervarings en Bybelse waarhede aanmoedig om te vertrou op die enigste Een wat altyd daar sal wees vir jou. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN STILWEES EN VERTROUE deur Angus Buchan.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/