In stilwees en vertroueVoorbeeld

In stilwees en vertroue

DAG 5 VAN 10

Vra die Here 

Van jongs af het Dawid geleer om op God te vertrou. Toe hy buite in die veld was en sy pa se skape opgepas het, was dit God wat hom teen die leeu en die beer beskerm het. Hy het sy God leer ken terwyl hy alleen in die veld gesit het. Ons het gesê dat jy nie iemand kan vertrou wat jy nie liefhet nie. Jy kan iemand ook nie liefhê of vertrou as jy hulle nie ken nie. Dawid het sy God geken. Dit maak dus sin dat hy later in sy lewe God bo alles en almal vertrou het. Op wie vertrou jy vandag? Waar lê jou sekuriteit? 

In ons Skrifgedeelte lees ons dat Dawid vertel is dat die Filistyne die dorpie Keïla aanval. Op daardie stadium was Dawid op vlug, weg van Saul af en hy het 600 manne by hom gehad. Hy het probeer om uit Saul se pad te bly. Saul wou hom doodmaak omdat hy jaloers was op Dawid. Saul het geglo dat Dawid sy troon wou hê, maar dit was nie waar nie. Saul was ook jaloers omdat sy seun Jonatan en Dawid beste vriende was. Dus was Saul, die koning van Israel, vasbeslote om Dawid dood te maak. Toe Dawid hoor dat die Filistyne Keïla aanval, het hy vir die Here gevra wat hy moes doen. Toe raadpleeg Dawid die Here en vra: “Sal ek gaan en daardie Filistyne verslaan?” (vers 2). 

Hy het nie ander mense gevra nie; hy het ook nie na sy manne geluister nie – al is ek seker hy het hulle vertrou. Nee, hy het die Here gevra en die Here het hom geantwoord en vir hom gesê wat om te doen. Die Here het vir hom gesê om te gaan en Dawid het die Filistyne verslaan. Dawid het toe in Keïla gebly totdat Saul daarvan te hore gekom het. Jy kan niemand behalwe jouself blameer as jy kies om na ’n mens in plaas van na God te luister nie. Leer vandag ’n les by Dawid en plaas jou vertroue eerstens en altyd op God. Hy is die Een wat jou nooit sal teleurstel nie. 

My Vader, help my om kop te hou te midde van moeilike besluite. Help my om nie deur ander se opinies en oplossings beïnvloed te word nie. Ek wil na U en U alleen luister. Amen. 

Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

In stilwees en vertroue

God sal jou nie in die steek laat nie. Wees gehoorsaam aan Hom en vertrou op Hom bo enigiemand en enigiets anders in jou lewe. Dít is Angus Buchan se boodskap wanneer hy jou deur persoonlike ervarings en Bybelse waarhede aanmoedig om te vertrou op die enigste Een wat altyd daar sal wees vir jou. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN STILWEES EN VERTROUE deur Angus Buchan.

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/