In stilwees en vertroueVoorbeeld
Gehoorsame geloof
Die mense het in Noag se tyd toenemend in sonde verval. “Die Here het toe gesê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het” (Genesis 6:7). Vers 8 en 9 sê: “Maar Noag het genade gevind in die oë van die Here. Noag was ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.” God het besluit om Noag te gebruik om die mens van uitwissing te red. Daarop het Hy vir Noag ’n opdrag gegee wat ’n groot stap in geloof gevra het.
God het vir Noag gesê om ’n ark te bou omdat daar ’n watervloed oor die aarde sou kom. So iets het nog nooit vantevore gebeur nie. Almal het Noag gespot, maar hy het hom nie laat keer nie. Hy het God geglo en in geloof het hy die ark volgens God se instruksies gebou. Kan jy jouself voorstel dat God vir jou sê om so iets te doen! Sal jy die geloof hê om Hom te vertrou, of sal jy buig voor groepsdruk? God soek vandag na mense soos Noag – mense wat op Hom sal vertrou wanneer dinge onmoontlik lyk. Die resultaat van Noag se gehoorsaamheid en geloof was dat hy en sy familie, saam met al die diere, die enigstes was wat die watervloed oorleef het.
Toe hulle uit die ark gekom het, het Noag ’n altaar gebou om ’n offerande aan die Here te bring. God het vir hierdie offerande voorsien deurdat Hy sewe van elke rein dier in die ark ingestuur het. God beplan vooruit; vertrou Hom, want Hy weet presies wat jy nodig het om jou doel hier op aarde te verwesenlik. Noag se offerande was aan God. Toe het God ’n verbond gesluit met Noag en Hy het die reënboog gestuur as ’n teken van daardie verbond.
My Vader, U is ’n God wat nie u verbond verbreek nie. U bly getrou aan al u beloftes. Ek weet dat ek op U kan vertrou. Here, ek lê my lewe op u altaar. Ek bid vandag dat die offer van my lewe vir U ’n welgevallige geur sal hê. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
God sal jou nie in die steek laat nie. Wees gehoorsaam aan Hom en vertrou op Hom bo enigiemand en enigiets anders in jou lewe. Dít is Angus Buchan se boodskap wanneer hy jou deur persoonlike ervarings en Bybelse waarhede aanmoedig om te vertrou op die enigste Een wat altyd daar sal wees vir jou. Hierdie leesplan is saamgestel uit IN STILWEES EN VERTROUE deur Angus Buchan.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/