Aanbidding is My WapenVoorbeeld
Ons kan almal saamstem dat nie een van ons moeilikhede in hierdie lewe kan vryspring nie.
Om die waarheid te sê, een van die beloftes wat dikwels oorgesien word, is: "in die wêreld sal julle dit moeilik hê" (Johannes 16:33). Dit klink egter nie na iets om na uit te sien nie, tog gee die laaste gedeelte van die vers vir ons hoop "... maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin."
Dus, as Jesus klaar die wêreld oorwin het, hoe moet ons dan in moeilike tye stry? Ons aanbid Hom eenvoudig. Dit mag dalk nie na die effektiefste wapen klink nie, maar ek verseker jou, dit is. Jy sien, die houding van aanbidding, is oorgawe. Vanuit 'n natuurlike oogpunt sou oorgawe gesien word as 'n teken van swakheid. Hier gaan dit egter nie oor oorgawe aan jou vyand nie; dit gaan oor oorgawe aan jou Koning. Jy moet verstaan dat die Koning wat jy aanbid, baie groter as enigiets is waarvoor jy te staan mag kom.
In Daniël 3 het Sadrag, Mesag en Abednego voor probleme te staan gekom en moes hulle 'n besluit neem. Koning Nebukadnesar het vir hulle gesê dat, indien hulle nie voor die afgod wat hy gemaak het, neerbuig en hom aanbid nie, hulle in die brandende oond gegooi gaan word. Hulle het egter geantwoord: "Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie" (Daniël 3:17-18). Asof hulle nie alreeds in die moeilikheid was nie, het die koning besluit om die oond sewe maal warmer as gewoonlik te laat maak. Jy sien dus dat jou aanbidding altyd vir die vyand aanstootlik sal wees; dit is die dapperste stap wat jy kan neem.
As jy hierdie verhaal verder lees, sal jy ontdek dat dieselfde soldate wat vir Sadrag, Mesag en Abednego vasgebind het, self deur die vuur verteer is. Nie net dit nie, die Here het Homself ook in die vuur geopenbaar. Aanbidding (die houding van oorgawe) sal altyd vir God in jou omstandighede inbring! Dit is juis die ding wat Hom aantrek en terwyl jy Hom aanbid, veg Hy namens jou en word jy deel van die oorwinning!
Ek daag jou vandag uit: fokus op die goedheid van die Here, aanbid Hom en Hy sal vir jou veg! Om in sy teenwoordigheid te lewe, is om in oorwinning te lewe. Aanbidding is jou wapen!
- John Wilds, Worship & Creative Arts Pastoor
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ten tyde van uiterste spanning en swaarkry het ons 'n belangrike wapen wat ons sal help om alle teëstand te verslaan: aanbidding! In hierdie 6-dag-leesplan sluit verskeie aanbiddingsleiers by David Villa aan om te bespreek hoe ons hierdie wapen effektief kan gebruik! Aanbidding is ons wapen!
More