Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”
Toe het Nebukadnesar wit geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego en opdrag gegee dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik. Daarna het hy van die sterkste manne in sy lyfwag beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die brandende oond te gooi. Hulle is toe vasgebind en sommer met hulle hemde, broeke en kopdoeke, met al hulle klere, in die brandende oond gegooi. Omdat die koning se opdrag so streng was, was die oond so verskriklik warm dat die manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego moes ingooi, deur die vlamme doodgebrand is. Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende oond geval.
Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?”
En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!”
Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos 'n hemelwese!”
Toe het Nebukadnesar na die bek van die brandende oond toe gekom en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit hierheen!”
En Sadrag, Mesag en Abednego het uit die oond uitgekom.
Toe die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs en die raadgewers van die koning nader kom, sien hulle aan die manne dat die vuur niks aan hulle liggame kon doen nie, dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur was nie.
Toe sê Nebukadnesar: “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid.