DANIËL 3:16-28
DANIËL 3:16-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Sadrag, Mesag en Abednego het geantwoord en vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons het nie nodig om oor hierdie saak aan u 'n antwoord te gee nie. As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. Indien nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie.” Nebukadnesar was toe buite homself van woede en sy gesigsuitdrukking het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednego. Hy het daarop geantwoord deur bevel te gee dat die oond verhit moes word, sewe maal warmer as wat nodig was. Hy het manne, die sterkste manne in sy leër, beveel om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en in die vlammende vuuroond te gooi. Hierdie manne is toe met hulle klere aan, in hulle mantels, broeke en tulbande, vasgebind en binne-in die vlammende vuuroond gegooi. As gevolg van die streng opdrag van die koning en die oond wat uitermate verhit was, het die vlamme van die vuur daardie manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego opgetel het, doodgebrand. Maar hierdie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die vlammende vuuroond geval. Toe skrik koning Nebukadnesar, spring vervaard op en vra vir sy raadsmanne: “Het ons nie drie manne binne-in die vuuroond gegooi terwyl hulle vasgebind was nie?” Hulle antwoord toe en sê vir die koning: “Ja, beslis, o koning!” waarop hy toe antwoord en sê: “Kyk! Ek sien vier manne los rondstap binne-in die vuuroond, en daar is geen letsel aan hulle nie; en die vierde se voorkoms is soos dié van 'n godeseun.” Daarop gaan Nebukadnesar nader na die opening van die vlammende vuuroond en sê toe: “Sadrag, Mesag en Abednego, diensknegte van die Allerhoogste God, kom uit en kom hier!” Toe kom Sadrag, Mesag en Abednego reg uit die vuuroond. Die satrape, landvoogde, streekgoewerneurs en raadsmanne van die koning het byeengekom en merk toe aan hierdie manne dat die vuur nie mag gehad het oor hulle liggame nie, dat die hare op hulle koppe nie geskroei was nie, dat hulle mantels nie verander het nie, en dat daar geen brandreuk aan hulle was nie. Nebukadnesar het daarop gereageer en gesê: “Die God van Sadrag, Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het – hulle wat op Hom vertrou het, die bevel van die koning verontagsaam en hulle liggame op die spel geplaas het, omdat hulle geen ander god behalwe hulle God sou dien en vereer nie.
DANIËL 3:16-28 Bybel vir almal (ABA)
Sadrag, Mesag en Abed-Nego het vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons kan niks vir jou sê nie. Ons God kan ons red, ons dien Hom, en Hy sal keer dat ons nie brand nie wanneer jy ons in die vuur gooi. Maar, Koning, jy moet weet, ook as ons God ons nie red nie, dan sal ons nie jou god dien nie en ons sal nie buig voor die beeld wat jy gemaak het nie.” Nebukadnesar het baie kwaad geword vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego. Hy het vir sy manne gesê hulle moet die vuur sewe maal warmer maak as wat dit altyd was. Toe het hy vir sy soldate gesê hulle moet vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego vasbind en in die vuur gooi. Die soldate het hulle vasgebind en in die vuur gegooi. Sadrag, Mesag en Abed-Nego het nog al hulle klere aangehad. Die koning het gesê die vuur moet warm wees, en dit was baie warm. Die vlamme het die soldate doodgebrand wat die drie manne in die vuur gegooi het. Die drie manne, Sadrag, Mesag en Abed-Nego, het binne-in die vuur geval. Hulle was vasgebind. Maar toe skrik koning Nebukadnesar groot en hy staan op. Hy vra toe vir sy raadgewers: “Het ons drie manne in die vuur gegooi, en was hulle vasgebind?” Hulle het vir die koning gesê: “Ja, Koning, dit is so.” Toe sê die koning: “Ek sien nou vier manne. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle loop in die vuur rond en hulle makeer niks. Ek sien die vierde man lyk soos 'n engel.” Nebukadnesar het nader gegaan na die deur van die groot oond waarin die vuur was. Hy het gesê: “Sadrag, Mesag en Abed-Nego, dienaars van die Hoogste God, kom uit!” Hulle het uitgekom. Die belangrike amptenare het almal kom kyk en hulle het gesien dat die vuur nie die drie manne gebrand het nie. Dit het nie die hare op hulle koppe gebrand nie. Hulle klere was nog dieselfde en dit het ook nie soos vuur geruik nie. Toe sê Nebukadnesar: “Ek prys die God van Sadrag, Mesag en Abed-Nego. Hy het sy engel gestuur en Hy het sy dienaars gered. Hulle het geglo dat Hy hulle sal help en hulle het nie gedoen wat die koning gesê het nie. Hulle het gedink dit is beter om te sterf, want hulle wou net hulle eie God dien en eer, nie 'n ander god nie.
DANIËL 3:16-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop 'n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie. Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was. En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi. Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi. Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand. Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval. Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning! Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar 'n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van 'n godeseun. Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en daarop gesê: Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abednégo uit die vuuroond uitgegaan. Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie, en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie. Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.
DANIËL 3:16-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” Toe het Nebukadnesar wit geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego en opdrag gegee dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik. Daarna het hy van die sterkste manne in sy lyfwag beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die brandende oond te gooi. Hulle is toe vasgebind en sommer met hulle hemde, broeke en kopdoeke, met al hulle klere, in die brandende oond gegooi. Omdat die koning se opdrag so streng was, was die oond so verskriklik warm dat die manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego moes ingooi, deur die vlamme doodgebrand is. Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende oond geval. Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?” En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!” Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos 'n hemelwese!” Toe het Nebukadnesar na die bek van die brandende oond toe gekom en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit hierheen!” En Sadrag, Mesag en Abednego het uit die oond uitgekom. Toe die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs en die raadgewers van die koning nader kom, sien hulle aan die manne dat die vuur niks aan hulle liggame kon doen nie, dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur was nie. Toe sê Nebukadnesar: “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid.
DANIËL 3:16-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Sadrag, Mesag en Abednego het geantwoord en vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons het nie nodig om oor hierdie saak aan u 'n antwoord te gee nie. As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. Indien nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie.” Nebukadnesar was toe buite homself van woede en sy gesigsuitdrukking het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednego. Hy het daarop geantwoord deur bevel te gee dat die oond verhit moes word, sewe maal warmer as wat nodig was. Hy het manne, die sterkste manne in sy leër, beveel om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en in die vlammende vuuroond te gooi. Hierdie manne is toe met hulle klere aan, in hulle mantels, broeke en tulbande, vasgebind en binne-in die vlammende vuuroond gegooi. As gevolg van die streng opdrag van die koning en die oond wat uitermate verhit was, het die vlamme van die vuur daardie manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego opgetel het, doodgebrand. Maar hierdie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die vlammende vuuroond geval. Toe skrik koning Nebukadnesar, spring vervaard op en vra vir sy raadsmanne: “Het ons nie drie manne binne-in die vuuroond gegooi terwyl hulle vasgebind was nie?” Hulle antwoord toe en sê vir die koning: “Ja, beslis, o koning!” waarop hy toe antwoord en sê: “Kyk! Ek sien vier manne los rondstap binne-in die vuuroond, en daar is geen letsel aan hulle nie; en die vierde se voorkoms is soos dié van 'n godeseun.” Daarop gaan Nebukadnesar nader na die opening van die vlammende vuuroond en sê toe: “Sadrag, Mesag en Abednego, diensknegte van die Allerhoogste God, kom uit en kom hier!” Toe kom Sadrag, Mesag en Abednego reg uit die vuuroond. Die satrape, landvoogde, streekgoewerneurs en raadsmanne van die koning het byeengekom en merk toe aan hierdie manne dat die vuur nie mag gehad het oor hulle liggame nie, dat die hare op hulle koppe nie geskroei was nie, dat hulle mantels nie verander het nie, en dat daar geen brandreuk aan hulle was nie. Nebukadnesar het daarop gereageer en gesê: “Die God van Sadrag, Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het – hulle wat op Hom vertrou het, die bevel van die koning verontagsaam en hulle liggame op die spel geplaas het, omdat hulle geen ander god behalwe hulle God sou dien en vereer nie.
DANIËL 3:16-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Sadrag, Mesag en Abednego het geantwoord en vir die koning gesê: O Nebukadnésar, ons is nie versigtig om u in hierdie saak te antwoord nie. As dit so is, kan ons God wat ons dien, ons verlos uit die brandende vuuroond, en Hy sal ons uit u hand red, o koning. Maar so nie, laat dit aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie. Toe was Nebukadnésar vol woede, en die vorm van sy gesig het verander teen Sadrag, Mesag en Abednego; daarom het hy gespreek en bevel gegee dat hulle die oond sewe maal meer moes verhit as wat dit gewoond was om verhit te word. En hy het die magtige manne wat in sy leër was, bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednego te bind en hulle in die brandende vuuroond te gooi. Toe is hierdie manne gebind in hulle rokke, hulle hose en hulle hoede en hulle ander klere, en hulle is in die middel van die brandende vuuroond gegooi. Daarom, omdat die koning se bevel dringend was en die oond baie warm was, het die vuurvlam daardie manne gedood wat Sadrag, Mesag en Abednego opgeneem het. En hierdie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het geboeid in die middel van die brandende vuuroond geval. Toe was koning Nebukadnésar verbaas, en hy het haastig opgestaan en aan sy raadgewers gesê: Het ons nie drie manne geboeid tussen die vuur in gegooi nie? Hulle antwoord en sê vir die koning: Dit is waar, o koning! Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los wat in die middel van die vuur loop, en hulle het geen seer nie; en die vorm van die vierde is soos die Seun van God. Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en gespreek en gesê: Sadrag, Mesag en Abednego, knegte van die Allerhoogste God, kom uit en kom hierheen. Toe het Sadrag, Mesag en Abednego uit die vuur uitgekom. En die vorste, goewerneurs en owerstes en die koning se raadgewers, wat bymekaar was, het hierdie manne gesien, op wie se liggame die vuur geen krag gehad het nie, en ook nie 'n haar van hulle hoof gesing is nie, en hulle klere is nie verander nie, en ook nie die reuk van vuur het oor hulle gegaan. Toe het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geseënd is die God van Sadrag, Mesag en Abednego, wat sy engel gestuur het en sy dienaars verlos het wat op hom vertrou het en die woord van die koning verander het en hulle liggame oorgegee het, sodat hulle nie dien of aanbid enige god, behalwe hulle eie God.
DANIËL 3:16-28 Die Boodskap (DB)
Toe antwoord Sadrag, Mesag en Abednego: “Koning Nebukadnesar, ons hoef ons nie voor u te probeer verdedig nie. Die God wat ons dien, kan ons uit die oond en uit u mag red as Hy wil. En selfs al wil Hy nie, kan u maar seker weet dat ons nooit u gode of die goue beeld wat u laat maak het, sal dien en aanbid nie.” Nebukadnesar het skoon bleek geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego. Hy het beveel dat die oond sewe maal warmer as gewoonlik gemaak moes word. Daarna het hy van die sterkste soldate beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die vuurwarm oond te gooi. Hulle is toe vasgebind en sommer met klere en al in die rooiwarm oond gegooi. Omdat die koning in sy woede opdrag gegee het dat die vuur verskriklik warm gemaak moes word, het die hitte van die oond die soldate verbrand toe hulle die drie in die oond gegooi het. Sadrag, Mesag en Abednego het met toue om hulle lyf in die oond geval. Skielik het Nebukadnesar van verbasing opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons nie net drie mans vasgemaak en in die oond gegooi nie?” “Dit is waar, U Majesteit,” het hulle geantwoord. “Wel, hoekom sien ek dan vier mense daar in die vuur rondloop? Kyk, hulle is nie eers vasgebind nie en die vuur doen net mooi niks aan hulle nie. Boonop lyk die vierde persoon vir my net soos ’n hemelwese.” Nebukadnesar het toe na die oond toe gestap en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit!” Hulle het dadelik uit die oond gekom. Al die prinse, premiers, administrateurs en ander amptenare van die koning het nader gekom om na die drie mans te kyk. Hulle was verstom om te sien dat die vuur niks aan hulle gedoen het nie. Hulle hare was nie geskroei nie en daar was nie ’n enkele brandmerk aan hulle klere nie. Hulle het nie eens na rook geruik nie. Toe sê Nebukadnesar: “Loof die God van Sadrag, Mesag en Abednego! Hy het sy engel gestuur om hierdie mense wat Hom dien en vertrou te kom red. Hulle het geweier om die koning se bevel te gehoorsaam. Hulle was bereid om dood te gaan eerder as om enige ander god te aanbid behalwe hulle eie God.
DANIËL 3:16-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons ag dit nie nodig om u hierop te antwoord nie. Die God wat ons aanbid, kán ons uit die vuur red. Hy sal ons uit u mag bevry, U Majesteit. En selfs al red Hy ons nie, U Majesteit, sal ons nie u gode vereer nie. Ons sal nie die goue beeld wat u gemaak het, aanbid nie.” Die koning was so kwaad vir Sadrag, Mesag en Abednego dat sy gesig vertrek het. Hy het opdrag gegee dat die oond sewe keer warmer as gewoonlik gemaak moet word. Hy het sterk mans uit sy leër aangesê om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die oond met sy skroeiende vlamme te gooi. Hulle het toe die drie mans vasgebind en hulle in die brandende oond gegooi met hulle klere en al. Omdat die koning beveel het dat die vuur so warm gemaak moet word, het die vlamme uit die oond die mense doodgebrand wat Sadrag, Mesag en Abednego in die oond gegooi het. Die drie mans, Sadrag, Mesag en Abednego, het so vasgebind in die brandende oond beland. Koning Nebukadnesar was egter verstom. Hy het opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Was dit nie drie mans wat ons vasgebind het en in die vuur gegooi het nie?” “Ja, beslis, U Majesteit,” het hulle vir hom gesê. Hy sê toe vir hulle: “Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ’n bo-aardse wese.” Nebukadnesar het so naby hy kan aan die deur van die vlammende oond gaan staan. Hy het geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van God die Allerhoogste, kom uit en kom hier na my toe!” Sadrag, Mesag en Abednego het toe uit die vlammende oond gekom. Die amptenare, hoofgoewerneurs, goewerneurs en ministers van die koning het om hulle saamgedrom. Hulle het gesien dat die vuur niks aan hulle gedoen het nie. Die hare op hulle kop was nie eers geskroei nie. Hulle klere het niks oorgekom nie en hulle het nie na rook geruik nie. Nebukadnesar het gesê: “Loof die God van Sadrag, Mesag en Abednego! Hy het sy engel gestuur om sy dienaars wat op Hom vertrou het, te red. Hulle het die koning se bevel verontagsaam en was bereid om hulle lewens te gee eerder as om eer te bewys aan enige ander god of enigeen buiten hulle eie God te dien.