Aanbidding is My WapenVoorbeeld
Habakuk 3:17-18: "Al sou die vyeboom nie bod nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder."
Watter wapen verkies jy vir 'n geveg? Ongetwyfeld sou aanbidding nie jou eerste keuse wees nie. Sang is nie 'n goeie selfverdedigingstaktiek nie; ook nie om 'n instrument te bespeel nie. Nogtans is aanbidding 'n wapen. Net so is aanbidding ook 'n keuse.
Met die eerste oogopslag mag dit voorkom of die skrywer in hierdie Bybelvers geen materiële besittings gehad het nie — geen vyebome, geen wingerde, geen olywe, geen skape of beeste nie. Lees dit weer en jy sal sien dat hy wel vyebome gehad het — net geen vye nie. Hy het wingerde — net geen druiwe nie. Hy het olyfboorde; hulle het net nie enige olywe gedra nie. Hy het 'n skaapkraal — net geen skape nie — asook 'n stal maar net geen beeste nie. As jy dit vanuit hierdie konteks lees, ontmoet jy 'n persoon wat probeer het en gefaal het ... alweer. Dit is meer as armoede; dis die diepste vlak van teleurstelling.
Dis 'n lewe van groot belegging en verwagting. Hierdie persoon het gesaai, 'n kraal gebou, geld belê en het, nie as gevolg van sy eie foute nie, geweldige mislukking ervaar.
Dalk weet jy hoe dit voel.
Die verhouding het verbrokkel en daar was niks wat jy kon doen om dit te verhoed nie.
Die ekonomie het in duie gestort en jy kon dit nie vertraag nie.
Jy het hard geleer vir jou graad, maar het steeds jou werk verloor.
Jy het die kinders elke Sondag kerk toe gebring, maar nogtans het hulle swak keuses gemaak.
Jy het gefaal en dit was nie jou keuse nie; in werklikheid het jy geen keuse in die saak gehad nie en dis wat die seerste maak — die magteloosheid.
Ons moet egter aanhou lees. "Tog ... " sê die skrywer. Wat 'n groot oorgang is dit nie! "Nogtans sal ek in die Here jubel ... ek sal juig in God, my Redder." Wat 'n verfrissende waarheid! Anders gestel: "Ek het steeds 'n keuse."
Al het jy dalk nie 'n keuse gehad oor wat met jou gebeur het nie, kan jy egter kies hoe jy gaan reageer op dit wat met jou gebeur. Hier is jou keuse: aanbidding! Aanbidding is die wapen wat ek kies! Wanneer ek gestroop voel van alle krag om my lewe te vorm, ontdek ek die grootste krag in my lewe: aanbidding. Aanbidding is nie slegs die wapen wat ek kies nie; aanbidding is 'n wapen wat sy krag IN keuse vind. Herwin vandag daardie krag. Kies om te aanbid.
Pastoor JJ Vasquez, Journey Church Orlando
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ten tyde van uiterste spanning en swaarkry het ons 'n belangrike wapen wat ons sal help om alle teëstand te verslaan: aanbidding! In hierdie 6-dag-leesplan sluit verskeie aanbiddingsleiers by David Villa aan om te bespreek hoe ons hierdie wapen effektief kan gebruik! Aanbidding is ons wapen!
More