Oordenking: Bid vir lande regoor die wêreldVoorbeeld

Around the World Prayer Devotional

DAG 17 VAN 30

Die Krag van die Goddelike Woord

In die skeppingsverhaal in die boek van Genesis, staan die noemenswaardige frase “En God het gesê …” Dit dui op die gesag en kreatiewe krag wat beliggaam is in die woord wat uit die mond van God kom. Hy het gespreek en dit wat nie bestaan nie het in wording getree; "niks" het verander in 'n tasbare werklikheid. Watter wonderlike krag is daar nie in die Goddelike woord van God nie! 

Regdeur die Bybel is die kragtige manifestasie van die Woord van God duidelik sigbaar, soos in Hebreërs 4:12. Die Woord van God was toe kragtig en dis vandag nog net so kragtig. Ek weet dat dit waar is, nie net omdat ek onfeilbare geloof in die Bybel het nie, maar ook omdat ek al so baie kere die verstommende krag van die Woord van God beleef het toe ek in Wes-Afrika gepreek het. Ek onthou veral een spesifieke voorbeeld: die radikale verandering van twee jong manne wat op 'n gevaarlike toekoms afgestuur het. 

Ek was in my kar op pad terug van 'n lesing by die Volle Evangelie Bybel Instituut, in die stad Bamenda, in Kameroen. Destyds het die Islamitiese sekte, Boko Haram, die gebied geterroriseer en dorpies in Nigerië, Tsjad en Noord-Kamaroen vernietig.

Toe ek deur 'n groot woud ry, spring twee jong manne uit die bosse. Hulle was albei omtrent 17 jaar oud en swaar gewapen. Een van hulle het in die middel van die pad sy hand staan en waai en die ander een het teen die rand van die pad gestaan, gereed om te skiet. Ek het my kar gestop en die twee jong manne het weerskante van my kar kom staan. 

Ek het die jong man die naaste aan my met respek gegroet. Ek was verbaas dat hy niks gesê het nie. Hy het swart tatoeërmerke op sy gesig gehad en het net na my gestaar met sy koue, rooi oë. Dit was die aakligste gesig wat ek al ooit in my lewe gesien het. 

Na 'n paar sekondes is die stilte verbreek deur een van die jong manne wat diep sug en my groet. Toe ek vra hoe ek hom kan help, antwoord hy: "Laai ons in die volgende dorp af." Sonder om te huiwer het ek hulle genooi om in die kar te klim. Tydens die reis het 'n onaangename stilte in die kar geheers, totdat ek besluit het om dit te verbreek. 

Soos gewoonlik het ek 'n paar traktaatjies in my kar gehad en 'n kopie aan elkeen van die jong manne aangebied. Ek het opgelet dat hulle dit begin lees en na 'n rukkie het ek 'n gesprek aangeknoop. Hulle was verbasend gretig om te praat. Wat nog meer verbasend was — nadat ons 'n tydjie lank oor die evangelie gepraat het, het hulle ingestem om hulle lewens vir Christus te gee! Ek het my kar gestop, hulle genooi om Christus te bely, en vir hulle gebid. Daarna het ek hulle vertel van 'n kerk in die naaste dorp.

'n Paar maande later het ek navraag gedoen oor die twee jong manne en was verheug om te hoor dat hulle gedoop is en nou getrou die kerk bywoon. Wat 'n fantastiese manifestasie van die krag van die Woord van God! 

Ons pogings om die Woord van God in die lewens van jong mense en kinders te saai, is nie verniet nie. Hulle dra vrug en sal altyd vrug dra, want die Woord van God is altyd toepaslik. Dit het geweldige krag. Laat ons dus aanhou saai en selfs nog meer saai!

Gebedsversoek 

· Die getalle van kinders in die kerke van Lomé, in Togo, is aan die groei. Sommige kerke meld dat kinders meer as die helfte van hulle gemeente uitmaak! Bid asseblief dat hierdie kinders dissipels sal word en diep in die Woord van God gewortel wees. 
Dag 16Dag 18

Aangaande hierdie leesplan

Around the World Prayer Devotional

Welkom by jou groot avontuur! Deur middel van hierdie oordenkings gaan ons deur die wêreld reis en waarhede in die Woord van God ontgin. Ons toergidse is vriende van die uiteenlopende netwerk van "OneHope" se wêreldwye vennote. Hulle geografiese gebiede verskil dalk, maar hulle is almal verenig met die doel om die Woord van God te verkondig. Reis saam met ons deur die Skrif op 'n 30-dae toer!

More

Ons wil graag vir OneHope bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://onehope.net/