Oordenking: Bid vir lande regoor die wêreldVoorbeeld
Sirië: Die wieg van die beskawing
Die breër Sirië word erken as die wieg van die beskawing. Deur die antieke tye heen was dit beset deur verskeie ryke, insluitend die Babiloniërs, Hetiete, Assiriërs, Sumeriërs, Amoriete, Kanaäniete, Grieke, Fenisiërs, Perse en Romeine. Deesdae is dit die tuiste van twee van die oudste, bewoonde stede in die wêreld: Damaskus en Aleppo.
Sirië is ook regdeur die Bybel noemenswaardig. Siriërs kan hul erfenis terug spoor na koning Aram, Noag se kleinseun. En wie ken nie die beroemde pad na Damaskus, waar Jesus vir Paulus ontmoet het nie? Volgens die boek Handelinge, is gelowiges die eerste keer Christene genoem in antieke Sirië. Die nasie is ook belangrik as gevolg van die verhouding wat dit met die volk van Israel gehad het.
Alhoewel Sirië een van die mees antieke bewoonde streke op aarde is, is dit nou 'n verlate tuiste vir miljoene. Sedert die begin van Sirië se burgeroorlog in 2011, het meer as 6.7 miljoen mense uit Sirië gevlug en skuiling in ander lande gesoek. Nog 6.1 miljoen is vanaf 2018 uit hul tuistes verdryf. Kinders maak omtrent die helfte uit van die bevolking wat verdryf is. Dis tragies dat hierdie imposante streek tans vir soveel hartseer bekend is.
Buurlande en verre lande huisves miljoene getraumatiseerde siele met verwarde gedagtes, gebroke harte en 'n verpletterde gees. Gesinne wat te midde van bomaanvalle vlug het nie die luukse om hulle besittings saam te neem nie. Hulle kom by vlugtelingskampe aan sonder basiese noodsaaklikhede, insluitend hulle identifikasie dokumente. Die enigste ding wat hierdie mense het is die hoop om eendag na hulle huise terug te keer.
Jesus het gesê: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Johannes 10:10). Te midde van verwarring en onsekerheid is die liefdevolle Vader aan die werk. Al kan treurende vlugtelinge nie hulle droom vervul om na hulle tuisland terug te keer nie, vind duisende 'n onfeilbare hoop van 'n ewige tuiste. Soos lig in die duisternis kom Jesus tot die redding!
Terwyl Jesus voor sy kruisiging 'n ernstige gesprek met sy dissipels gehad het, het Hy hulle getroos deur te belowe dat Hy sou terugkeer om hulle na die Vader se huis te neem (Johannes 14:1–14). Jy ly dalk nou. Jy het dalk 'n geliefde verloor, of dalk word jy deur iemand geteister, is jy sielsongelukkig, is jy in konflik met iemand na aan jou of is jou huwelik in gevaar. Waarmee jy ook al worstel, dis nie die einde nie! Jy kan vandag vrede vind in die wete dat Jesus deur sy bloed 'n nuwe begin beloof vir almal wat in Hom glo! As ons verstaan dat ons lewe op hierdie aarde net 'n klein deeltjie van ons bestaan verteenwoordig, kan dit ons aandag weglei van die tydelike dinge wat ons oorweldig, na dit wat ewig is. Posisies, besittings, werk, kwalifikasies, opinies, godsdiens, voorkoms, besluite — nie een van hulle is vir ewig nie. Maar God, sy Woord en jou siel is. Belê jou tyd, energie en bronne in die ewige dinge.
Gebedsversoeke
· Miljoene mense is geraak deur die oorlog in Sirië. Bid vir liggaamlike en emosionele genesing, hereniging van gesinne wat geskei is, herbou van wonings, geleenthede vir goeie opvoeding en werksgeleenthede.
· Bid vir vrede in die streek.
Aangaande hierdie leesplan
Welkom by jou groot avontuur! Deur middel van hierdie oordenkings gaan ons deur die wêreld reis en waarhede in die Woord van God ontgin. Ons toergidse is vriende van die uiteenlopende netwerk van "OneHope" se wêreldwye vennote. Hulle geografiese gebiede verskil dalk, maar hulle is almal verenig met die doel om die Woord van God te verkondig. Reis saam met ons deur die Skrif op 'n 30-dae toer!
More