Oordenking: Bid vir lande regoor die wêreldVoorbeeld
Dis Tyd om vir Jesus te Skyn
Godsdienstige diskriminasie is 'n ernstige saak in hedendaagse Pakistan. Die godsdienstige minderheidsgroepe is slagoffers van geweld, vervolging en terrorisme. Vroue wat aan godsdienstige minderheidsgroepe behoort, is dikwels slagoffers van ontvoering en gedwonge bekering tot Islam.
As Pakistan se vele uitdagings die moraal en selfvertroue van mense wat uit die meerderheidsgemeenskap bestaan laat daal het, waar kan 'n mens die godsdienstige minderheidsgroepe in hierdie somber prentjie plaas? Hulle is swak en dis 'n geweldige stryd; die kragte wat teen hulle werk is kru, uiteenlopend en vernietigend. 'n Handjievol Christene kan nie teen hierdie magte van die duisternis baklei met menslike pogings nie. Die situasie lyk hopeloos.
Wanneer ons egter na die Woord van God gaan, sien ons dat die toestand van die eerste kerk in die boek Handelinge nie veel beter was as die situasie wat gelowiges in Pakistan deesdae in die gesig staar nie. God het 'n spesiale doel vir diegene wat in hierdie land gebore is. Hy wil hê dat sy lig deur hulle in die duisternis sal skyn.
Soos die dae nog donkerder word, is dit noodsaaklik dat hierdie lig helderder sal skyn. Ongelukkig loop baie kerke, leraars en alledaagse gelowiges met leë lampe rond. Weet jy wat 'n leë lamp vir 'n verlore en sterwende wêreld sal doen? Niks. Sonder olie is daar nie lig nie. Sonder lig is daar geen openbaring van sonde en 'n behoefte aan 'n Verlosser nie. Sonder openbaring is daar geen pad tot bekering nie. Sonder bekering is daar geen hoop nie.
Die lampe kan slegs brand met die suiwer en eenvoudige evangelie. Deesdae is kinders en jongmense gaande oor media, op soek na rykdom en gereed om oor ander gelowe te leer, sonder om te weet wat die ernstige gevolge daarvan sal wees. Tensy daardie jongmense bereik word, kan hulle nie gered word nie. Die waarheid oor die ewigheid moet verkondig word — dat slegs volgelinge van Christus in die hemel sal kom en al die ander mense hel toe gaan. Die behoefte aan bekering van sonde en 'n erkenning van die heiligheid van God moet verkondig word. Dis hoe lampe gevul kan word en mense voorbereid kan wees vir die ewigheid, in die kosbare tyd wat nog oor is.
As die kerk die nuwe geslag verloor, is dit nie die wêreld se skuld nie, maar die Christene van Pakistan s'n. Hierdie geslag leef in duisternis; terwyl Christene beter weet. Daar moet opgehou word om vir iemand anders te wag om tot aksie oor te gaan om die samelewing tot inkeer na Christus te bring. As volgelinge van Christus behoort saamgestaan en tot aksie oorgegaan word.
Hierdie vyf opdragte uit 2 Timoteus kan gebruik word om Christene in Pakistan te help om hul lampe met die nodige olie te vul om die pad te verlig en die verlorenes vir die koninkryk van God te bereik.
1. Gebed en Bybelstudie behoort die kern van hul lewens, gesinne en bedieninge te wees (Lees 2 Timoteus 1:13).
2. Hul onderrig en prediking behoort op die suiwer en lewensveranderende evangelie van die Here Jesus gebaseer te wees (Lees 2 Timoteus 2:15–17).
3. Hulle moet nie voor die duisternis swig en dit duld nie. (Lees 2 Timoteus 2:19).
4. Hulle moet dapper wees om die sonde uit te wys en geen aandeel daarin te hê nie. (Lees 2 Timoteus 3:1–5).
5. Hulle moet volgens die waarheid van die Woord van God lewe en dit met ander deel (Lees 2 Timoteus 3:16–17).
As volgelinge van Christus is almal geroepe om die lig te wees. Dis tyd om vir Jesus te skyn. Hy is die Een wat ons die kans gegee het om vir Hom te lewe en Hom te dien voordat Hy terugkeer. Hy wil hê dat die lampe vol moet wees en in Pakistan skyn, omdat die tyd min raak.
Gebedsversoeke
· Bid dat die oë van kinders en jongmense sal oopgaan vir die ernstige gevolge van ander gelowe.
· Bid vir die ongeveer duisend meisies en vroue wat elke jaar ontvoer word en slagoffers word of gedwonge bekerings deurgaan.
· Bid dat die lig van die kerk in Pakistan helder in die duisternis sal skyn.
Aangaande hierdie leesplan
Welkom by jou groot avontuur! Deur middel van hierdie oordenkings gaan ons deur die wêreld reis en waarhede in die Woord van God ontgin. Ons toergidse is vriende van die uiteenlopende netwerk van "OneHope" se wêreldwye vennote. Hulle geografiese gebiede verskil dalk, maar hulle is almal verenig met die doel om die Woord van God te verkondig. Reis saam met ons deur die Skrif op 'n 30-dae toer!
More