Jesus, Tuis In Jou Hart — Pete BriscoeVoorbeeld
'n Liefdevolle Uitnodiging
Wanneer Christus 'n mens roep, versoek Hy hom om aan homself te sterf. — Dietrich Bonhoeffer
Kom ek deel 'n bietjie ongevraagde raad oor romantiese afsprake. Jy moet liewer nooit iemand in 'n verhouding nooi met hierdie woorde nie: "Ek het jou lief, kom sterf aan jouself." Dit mag dalk met Romeo en Juliet gewerk het, maar ek is seker Shakespeare sou alles moes insit om elke greintjie romanse uit daardie reëltjie te haal.
Dink hieroor na: "Ek het jou lief, kom sterf aan jouself."
Dit skilder nie juis 'n prentjie van 'n blink toekoms nie. Dit bring beslis nie 'n warm gevoel in jou op nie. Komende van die verkeerde persoon, mag jy dalk jou selfoon gryp om die polisie te bel. As Jesus egter sê: "Ek het jou lief, kom sterf aan jouself", is dit nie 'n bedreiging nie. Dit is 'n fantastiese uitnodiging tot lewe!
"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my" (Galasiërs 2:20a AFR53).
Laat dit goed insink. Ons is saam met Christus gekruisig. Deur in Hom te glo, is sy dood én opstanding ook op ons van toepassing. Dit is wonderlik kragtig. Dis Christus wat lewe, werk en lei in ons — in jou. "Ek het jou lief, kom sterf aan jouself ... en jy sal lewe vind."
Dit is 'n uitnodiging van God self wat die beloop van ons lewens verander. Dit verander in wese wie ons is. Ek is nie meer Pete wat na Pete se belange omsien, Pete se lewe lei en vir God met Pete se eie pogings dien nie. Inteendeel, God se Woord en sy Gees roep ons tot 'n meer betekenisvolle en diepgaande bestaan:
"want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry" (Matteus 16:25).
Ons het gesterf aan die lewe wat deur die self bepaal is en lewe nou in Christus. Anders gestel, die lewende Seun van God lewe nou in ons! Is dit nie verstommend nie?
Here, ek het probeer om my lewe te red — maar ek het saam met U gesterf en U vul my met u lewe. U het nog die hele tyd in my gelewe. Here, ek loof U dat ek nie nog meer krag nodig het nie, want U is my krag. Ek hoef nie u Gees na te jaag nie, want u Gees is in my. Ek val vandag voor U neer soos een wat aan homself gesterf het en nou deur U lewe. Wys asseblief vir my 'n nuwe manier waardeur U vandag deur my wil lewe. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hou styf vas aan die vertroosting van die eeu-oue evangelie wanneer jou lewe eensaam word en jou dae moeilik. Christus het gesterf, opgestaan en is nou tuis in jou hart! In hierdie 7-dag leesplan, wys Pete Briscoe jou op die wonder van die inwonende Christus en wat dit beteken om elke dag in die volheid en krag van "Christus in jou" te lewe.
More