Jesus, Tuis In Jou Hart — Pete BriscoeVoorbeeld
Die Toekoms Is Nou
Om te sterf, is om by die Here te wees. Dit is nie slegs 'n idee nie; dit is 'n werklikheid. — Francis Schaeffer
"Sy is nou by Jesus. Ons het die gerusstelling dat sy op hierdie oomblik by Jesus is ..."
Het jy al hierdie woorde by 'n begrafnis gehoor? Heel waarskynlik. Ek het.
Dis nie dat dit nie waar is nie, dis net nie die volle waarheid nie. Die tydsberekening is verkeerd. Die goeie nuus is nie dat die afgestorwene nou by Christus lewe nie. Dis net dat ons lewende eenwording met Christus lank voor ons fisieke dood begin het.
"Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid ... Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees ... omdat Ek lewe en julle sal lewe. Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle" (Johannes 14:16-17; 19-20).
Dit is nie 'n geromantiseerde opvatting nie. Ek is al "by die Here" sedert ek vir die eerste keer my geloof in Jesus geplaas het. Dit sal sekerlik verander wanneer ek hierdie gebroke liggaam aflê en van aangesig tot aangesig, op 'n suiwer geestelike vlak, met Hom in verhouding tree. Die feit dat Hy alreeds in my is, is die misterie, die vreugde en die unieke waarheid van die Christelike boodskap.
Is dit nie eenvoudig wonderlik nie? Dalk het jy nog nooit so daaraan gedink nie — dat jy nie vir ewig hoef te wag om in Christus en Christus in jou, te lewe nie. Miskien het jy gedink dis nog ver in die toekoms — dat dit eers deur die dood 'n werklikheid word. Die goeie nuus is egter: die toekoms is nou.
Wat God doen, doen Hy deur jou; wie God is, is Hy deur jou. Nee, jy is nie 'n god in die kleine nie. Die nuus is veel beter. Jy is met God vervul. Jy is na God se beeld geskape en wanneer jy tot geloof kom, kry daardie beeld lewende kleur.
Ek hoop by my begrafnis word gesê: "Hier is 'n man wat vir byna nege dekades saam met Jesus gelewe het." Ek bid dat hierdie woorde ook by jou begrafnis gesê sal word.
Inwonende Vader, ek glo dat U in my en in my lewe is, al is dit 'n werklikheid wat my verstand moeilik begryp. Lig die sluier van my denke, wat verhoed dat ek begryp hoe u inwoning alles van die lewe hier op aarde, deur u wysheid verander. Ek wil nou met U dans, nou met U lewe en vandag met U wandel. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hou styf vas aan die vertroosting van die eeu-oue evangelie wanneer jou lewe eensaam word en jou dae moeilik. Christus het gesterf, opgestaan en is nou tuis in jou hart! In hierdie 7-dag leesplan, wys Pete Briscoe jou op die wonder van die inwonende Christus en wat dit beteken om elke dag in die volheid en krag van "Christus in jou" te lewe.
More