Leef Jou Roeping Uit: Wat Op Aarde Doen Ek Hier?Voorbeeld
Bybelstudie: Hou Dit Eenvoudig
As jy oortuig is dat daaglikse stiltetyd vir jou geestelike groei noodsaaklik is, hoe sal jy dan te werk gaan om dit te doen? Jy mag dalk gemotiveerd voel om stiltetyd te hou, maar is onseker hoe.
Iemand het eenmaal gesê: "As jy na niks mik nie, sal jy dit beslis behaal!" Om ware betekenisvolle stiltetyd te hou, het jy 'n plan of algemene riglyn nodig wat jy kan volg.
Die belangrikste reël is dit: Hou jou plan eenvoudig.
Maak eerstens seker dat jy 'n Bybel in 'n hedendaagse vertaling het, 'n notaboek om neer te skryf wat die Here aan jou uitwys en ook om 'n gebedslys te maak, en 'n liedereboek ingeval jy tot lof van God wil sing.
Volg dan hierdie drie eenvoudige stappe: Ontspan, versoek en lees.
1. Ontspan terwyl jy op God wag. Raak vir 'n oomblik stil. Jy hardloop nie sommer die teenwoordigheid van God binne en begin onmiddellik praat nie. Volg God se vermaning in Psalm 46:11a AFR83: "Bedaar en erken dat Ek God is." Wees vir 'n rukkie stil om jou in 'n eerbiedige gemoedstoestand te bring.
2. Bid kortliks jou versoek. Dit is nie jou gebedstyd nie, maar 'n kort opening om God te vra om jou hart te reinig en jou in die tyd met Hom in te lei. Jy moet ingestel wees met die Outeur voordat jy sy Boek kan verstaan! Psalm 139:23-24 en Psalm 119:18 is uitstekende Skrifgedeeltes om te memoriseer.
3. Lees 'n Skrifgedeelte. Dis waar jou gesprek met God begin. Hy praat met jou deur sy Woord en jy praat met Hom in gebed. Lees jou Bybel:
• Stadig. Moenie haastig wees of probeer om 'n lang stuk te lees nie; en moenie daardeur jaag nie. • Herhaal. Lees die gedeelte herhaaldelik totdat jy 'n prentjie in jou gedagte begin sien. • Moenie ophou nie. Moenie in die middel van 'n sin in 'n studie van leerstellings afgelei raak nie. Lees net daardie gedeelte ter wille van die genot daarvan terwyl jy God kans gee om met jou te praat. • Lees hardop. Om hardop te lees sal jou help om te konsentreer. Dit sal jou ook help om beter te verstaan wat jy lees omdat jy terselfdertyd sien en hoor. Moet egter nie so hard lees dat jy iemand anders steur nie. • Lees stelselmatig. Moenie rond en bont 'n gedeelte hier of 'n hoofstuk daar lees waarvan jy hou of interessant vind nie. Lees die Bybel soos dit geskryf is — 'n boek of brief op 'n keer in 'n ordelike roetine.
Luister na vandag se klankonderrig deur Pastoor Rick >>
Luister na gebed |
Aangaande hierdie leesplan
Sluit by Pastoor Rick se boodskapreeks aan oor God se roeping vir jou lewe terwyl jy leer hoe om onderskeid te tref tussen daardie roeping en om dit as 'n seën vir die kerk, ander mense en jou eie lewe aan te wend.
More