Om Rus in die Lewensritmes te VindVoorbeeld
Die Ritme van Studie
Ek onthou in my vroeër jare as 'n volgeling van Jesus, sou ek hoor hoe mense verwys na hulle begeerte en vermoë om net met hulle Bybel na 'n stil plek te gaan en na vier ure met 'n gevoel van verfrissing, vernuwing en herlewing terug te keer. As ek eerlik moet wees, was die vooruitsig van so 'n ervaring oorweldigend en die direkte teenoorgestelde van verfrissend. Ek dink dit was hoofsaaklik weens my gebrek aan perspektief oor die voordele en seëninge van studietyd.
Bybelstudie is een van die belangrikste gebiede waarop 'n volhoubare ritme kan ontwikkel. Toe ek probeer het om deur die Woord te lees sonder werklike beplanning, was ek verlore, deurmekaar, en verveeld. Ek het 'n deurbraak ervaar toe ek vir God gevra het om vir my te wys wat Hy begeer dat ek sal sien. Wanneer ons die Woord van God lees, moet ons gedurig sê: "Dit praat met my." Die Bybel is nie 'n onpersoonlike verhaal oor die verlede nie, maar die lewende Woord van God. Dit is 'n deurlopende vertelling, waarvan ons deel is. Ons hoop is om insig [in] die lewe te verkry en ook rigting deur die openbaring van die Woord van God. Eugene Peterson stel dit uitstekend: “Die doel om die Woord van God te lees, is om te luister na die stem van die God wat praat." [3] Daar is 'n rede hoekom Psalm 119:105 verwys na die Woord van God as "... die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad". Die Skrif help om ons te lei en te rig wanneer ons soekend na die rykdom van sy waarheid is.
Die Bybel herinner ons telkemale van die belangrikheid en krag wat met bestudering, leer en rus in die Skrif en voorskrifte van God gepaardgaan. Paulus onderrig ons in Kolossense 3:16: "Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing." Deur die Woord van God te bestudeer, kan ons sy waarheid inneem sodat dit tot ons innerlike kan deurdring.
Wanneer ons op die Skrif fokus, herinner dit ons aan wie God werklik is en wie ons in die lig van hierdie waarheid is. Die Woord gee vir ons die begrip wat ons help om ander volgens God se beginsels te onderrig en te lei. Begrip van die Woord, lei tot dankbaarheid wat ons laat sing en ander met God se beloftes bemoedig.
Ek stem saam met Lesslie Newbigin [wat] die volgende geskryf het: “Ons moet elke teks in die konteks van die evangelie self lees, want dit is die leidraad vir ons begrip van die Skrif." [4] Die Bybel is 'n vertelling wat heenwys na die hoop wat ons in die hoofkarakter, Jesus, vind. Wanneer ons die Woord deur dié lens bestudeer, beweeg dit ons in die rigting van 'n dieper begrip oor die werke wat deur Christus bereik is, wat weer op sy beurt, aan ons siele rus bring.
Bestudering van die Woord, bring 'n rykdom wat ons verbind met God se hart . . . Martin Luther het eenkeer gesê: "Die Bybel is lewendig, dit praat met my; dit het voete, dit hardloop agter my aan; dit het hande, dit neem van my besit."[5]
[3] Eugene Peterson: "Working the Angles: The Shape of Pastoral Integrity"(Grand Rapids: Eerdmans), 1987.
[4] Lesslie Newbigin: "Discovering Truth in a Changing World" (London: Alpha International) 2003.
[5] M. H. Manser: "The Westminster Collection of Christian Quotations" (Louisville: Westminster John Knox Press), 2001.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Met so baie verantwoordelikhede en afleidings wat om ons aandag meeding, beland ons maklik in ongesonde siklusse van rus. Ons stry en span ons in teen God se doel vir ons lewens — en brand onsself uit. Hierdie 10-dag leesplan sal jou op geestelike weë lei wat jou sal help om jouself vir die Here ontvanklik te maak; om gemeenskap en intimiteit met Hom te ervaar — en ware rus vir jou siel te vind.
More