Om Rus in die Lewensritmes te VindVoorbeeld
Die Ritme van die Natuur
Ek moet toegee dat ek nooit juis iemand vir die buitelewe was nie. Ek het in die stad grootgeword en het dus nie veel tyd in die natuur deurgebring nie. As gevolg van sommige dinge in die buitelewe soos goggas, weersomstandighede en die onvoorspelbaarheid van die natuur, was dit nooit vir my juis ontspannend nie. Ons het op 'n stadium in Kaapstad gewoon toe ek en my vrou vir 'n vakansie na die Drakensberge genooi is. Gedurende hierdie reis, het die Here ons 'n groot deurbraak laat belewe. Vandat ons oor die provinsiale grens is, het die Here met my begin praat. Ons het in 'n vriend se gastehuis tuisgegaan en een oggend, terwyl ek van die voorstoep af uitkyk, is daar voor my die pragtigste uitsig op die berge. Die heuwels was gehul in die helderste kleure wat die herfs se koms aangekondig het. Die kabbeling van 'n rustige stroompie wat deur die eiendom vloei, het 'n wonderlike kalmerende uitwerking gehad. Ek het op 'n roete met pragtige bome en veldblomme aan weerskante gaan draf. Die geluide, reuke en vars lug het my gefassineer en diep ontroer. God het Homself aan my begin openbaar op maniere wat ek nog nie voorheen ervaar het nie. Ek besef toe hoevéél ek misgeloop het. Op 'n nuwe, lewenskragtige wyse het ek van God se teenwoordigheid bewus geword.
Baie mense beweer dat ons die heel beste met die lees van die Skrif in verbinding kan kom wanneer ons dit in die buitelug kan doen — en dis moeilik om daarvan te verskil. Die Bybel is propvol voorstellings, verhale en voorbeelde wat met die natuur verband hou. Die Bybel begin selfs met 'n verhaal oor 'n tuin! Dink maar aan al die verwysings van ons as skape en God as die goeie Herder, of die beeldspraak waar Christus van die wingerdstok en lote gebruikmaak. Hierdie is maar 'n paar van honderde verwysings in die Skrif waar direk na die natuur verwys word. Wanneer ons onsself in die moderne stedelike en ontwikkelde gebiede bevind, loop ons 'n deel van die skeppingsprag mis wat tot ons begrip van Hom kon bydra.
Om in die natuur te wees, kan die eentonigheid verbreek van ons kulturele begrip en ervaring van aanbidding. Dikwels vind ons kerkbyeenkomste in geboue sonder vensters plaas, of waarvan die vensters donker geverf is. Dit help ons om die God van die skepping te onthou, wanneer ons in die natuur is en sy skepping ervaar. Sommige mense vind helderheid van denke en hart wanneer hulle draf of stap en na die geluide in die natuur luister. Vir ander skep 'n kajakvaart op 'n rivier, of om ver in 'n meer vis te vang, die ruimte om sy teenwoordigheid ten diepste in te drink. Die buitelug kan ons sintuie verskerp en ons begrip vernuwe van die ingewikkelde manier waarop God ons geskape het. Om buite te wees kan ook net die regte plek wees vir nadenke, wat 'n uitstekende voorbeeld is hoe die ritmes kan saamwerk.
Wanneer ons oor die betekenisvolheid van die ritme van die natuur gesels, sal ons nalatig wees as ons nie na Romeine 1:20 (NLV) verwys nie: "Want hulle kan sy onsigbare eienskappe. naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie." Die Bybel is beslis wanneer dit ons herinner dat die waarheid van God in die natuur vir ons sigbaar en beskikbaar is.
Aangaande hierdie leesplan
Met so baie verantwoordelikhede en afleidings wat om ons aandag meeding, beland ons maklik in ongesonde siklusse van rus. Ons stry en span ons in teen God se doel vir ons lewens — en brand onsself uit. Hierdie 10-dag leesplan sal jou op geestelike weë lei wat jou sal help om jouself vir die Here ontvanklik te maak; om gemeenskap en intimiteit met Hom te ervaar — en ware rus vir jou siel te vind.
More