StormbestandVoorbeeld
Terwyl ons voortgaan om Job se lewe in oënskou te neem, sal ons sien dat sy ware ingesteldheid openbaar sal word deur dit wat hy sê. God het toegelaat dat die Satan Job se tien kinders, rykdom en gesondheid wegneem. Die vyand — die een wat rondloop en iemand soek om te verslind — het Job van alles ontneem wat vir hom waardevol en belangrik was en alles wat hy bereik het. En tog, wanneer Job se lewe ondersoek word, sal ons sien dat hy 'n man van onskatbare waarde en pure goud is. Alhoewel Job se uiterlike met aaklige sere oortrek is, weerspieël sy innerlike 'n persoon wat regverdig voor God kan staan.
In elkeen van ons lewens kom daar 'n bepaalde oomblik wanneer ons moet besluit dat ons God sal vertrou — ongeag wat gebeur, hoe ander ons behandel, of hoe moeilik ons omstandighede geword het. Gewoonlik is dit in so 'n storm in 'n mens se lewe wanneer hierdie besluit getoets en gelouter word.
Job het sy besluit al jare voorheen geneem, maar dit was tydens die moeilikste tyd in sy lewe toe hy sy innerlike geloof hardop en duidelik verklaar het: "God kan my maar tref, maar ek het geen ander hoop nie" (Job 13:15 NLV).
Het jy al in jou lewe so vasberade opgetree? Of het jy te midde van die storm handdoek ingegooi?
Die lewenstorms het die verborge vermoë om die krag van ons karakter en ware geloof te openbaar. Job se karakter was soos suiwer goud; sy geloof het staande gebly in die geweldige storm.
As gelowiges is ons dilemma eg en waar: ons moet storms hanteer wat alles in ons lewe omvergooi en dit maak ons bang. Terselfdertyd het ons 'n passievolle, amper desperate verlange na die God wat alles kan regstel — tog kan ons nie verstaan hoe Hy in ons lewens aan die werk is nie. Daarom, in geloof en in liefde, hou ons aan om te bid, al woed die storm, ons aanbid te midde van die hewige aanslag en buig neer in die verwoesting wat deur die storm veroorsaak is. Ons leun op sy groot genade en nie ons eie begrip nie.
Aangaande hierdie leesplan
Ly jy, of een van jou geliefdes, onder die trauma van planne wat nie uitgewerk het nie, verhoudinge wat verwoes is of sekuriteit wat vernietig is? In plaas daarvan om deur so 'n storm vernietig te word, kan jy toelaat dat dit jou vermoë om vinnig te groei, verbeter en jou doel in God tot vervulling te bring. Nadat jy dieper in die Woord van God gedelf het, sal jy vind dat daar 'n seëvierende manier is om stormbestand te wees!
More