Noël: Kersfees Is Vir AlmalVoorbeeld

Noel: Christmas Is For Everyone

DAG 2 VAN 12

Sonde: Waarom Kersfees vir Almal Bedoel is

Deur Danny Saavedra 

"Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus" (Romeine 3:21-24).

Elke jaar vier ons Kersfees. Dit is ‘n mooi tyd van vreugde en goeie nuus. Ons versier ‘n boom, hang liggies op, sing mooi Kersliedere en gee wonderlike geskenke. Ons as Christene herinner almal elke jaar daaraan “Jesus is die rede vir ons vrede.” Hoe dikwels dink ons egter werklik aan hoekom Hy die rede vir ons vrede is? Waarom is daar enigsins ‘n Kerstyd? Waarom het Jesus die hemel verlaat en aarde toe gekom? 

Die kort antwoord? Ons sonde. Jy sien, die Here het ons baie lief. Hy het ons na sy beeld gemaak (Genesis 1:27). Ons was die kroonjuweel van God se skepping, gemaak om Hom te verheerlik en om ‘n perfekte verhouding in sy teenwoordigheid te geniet, vir altyd, as sy geliefde kinders. Dit was ons lotsbestemming, wat ons moes beleef ... Dis wat Adam en Eva beleef het. Hulle het saam met God gewandel, met God gepraat, en sy teenwoordigheid geniet. Hulle het hul roeping uitgeleef en die vrugte van die tuin geniet (sien Genesis 2:15-16). Toe loop alles egter skeef … toe die sondeval plaasvind. 

Adam en Eva het toegelaat dat hulle hoogmoed en selfsugtige drange — hulle begeerte om “soos God” te wees — hulle gesonde oordeel beïnvloed. Omdat hulle hulself deur die slang laat mislei het, het nie hulle óf ons deel aan die heerlikheid van God nie. Op daardie oomblik, so vertel Paulus ons, “... deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). Die ergste van alles is dat hulle die ding waarna hulle gesoek het, om soos God te wees, alreeds gehad het. Hulle was beelddraers van Hom en sy afdruk was op hul harte en siele. 

In "Sin and Redemption", verklaar John Garnier: “Sonde het vervreemding en vyandskap met God veroorsaak, of in ander woorde, 'n morele verwydering tussen die sondaar en God, wat 'n geestelike dood beteken. Die teenoorgestelde hiervan is om verkwik te word, om lewe te kry; dus om met God versoen te word.” Die sonde van Adam en Eva het al hul kinders besmet, elke enkele persoon in die menslike geskiedenis. Dit het verwydering veroorsaak, ‘n skeiding tussen ons en ‘n heilige en volmaakte God. Sedertdien is elke kind geestelik doodgebore, geskei van God — behalwe Een. As ons dus geestelik doodgebore is, word dit ‘n permanente dood met geen kans op versoening nie sodra fisieke dood plaasgevind het. 

In Romeine 6:23 sê Paulus: “Die loon wat die sonde gee, is die dood ...” Die sonde in die tuin van Eden het onmiddellike geestelike dood oor die mensdom gebring, en die finale skuld vir ‘n mens se sonde is die volledige dood wat met die fisieke dood plaasvind. Om dus die skuld van die sonde (wat die dood is) te bedek, moes iets (of iemand) anders in die plek van die sondaar sterf. Om hierdie rede het offers nodig geword om vir die skuld van sonde te betaal. Hoekom? Omdat die loon van die sonde die dood is “... en sonder die vergieting van bloed daar geen vergewing plaasvind nie” (Hebreërs 9:22). 

Ons sien dit vir die eerste keer direk na die sondeval. In Genesis 3:21 sê die Woord: “Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek.” God moes 'n dier doodmaak en sy bloed vergiet, om Adam en Eva te kon klee en hulle skaamte weg te vat. Hier is die dilemma, “omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem” (Hebreërs 10:4). Dit was eenvoudig nie genoeg nie. Dit is wat die Kersverhaal so kragtig maak!

Die verhaal van Kersfees gaan oor die oomblik toe God se Goddelike plan ‘n realiteit geword het. Hoe? “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Johannes 3:16). Jesus, die volmaakte Seun van God, het gesê: “Kyk, Ek het gekom …” (Hebreërs 10:7); Hy "wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring” (Galasiërs 1:4). Hy het die loon vir ons sondes betaal, eens en vir altyd, om sodoende vir ons die geskenk van God te gee, wat “... die ewige lewe in Christus Jesus ons Here [is]” (Romeine 6:23). Te danke aan Jesus, kan ons God selfs meer intiem loof en geniet as wat Adam en Eva ooit kon. Nie net kan ons saam met God wandel nie, maar ons het ook die Heilige Gees in ons!

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Noel: Christmas Is For Everyone

Oor die volgende 12 dae gaan ons deur die Kersfeesverhaal reis en nie net ontdek waarom dit die grootste verhaal van alle tye is nie, maar ook dat Kersfees waarlik vir almal bedoel is!

More

Baie dankie aan Calvary Chapel Ft. Lauderdale wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting, besoek asb.: http://CalvaryFTL.org