MeesterbreinVoorbeeld

Mastermind

DAG 4 VAN 7

Jy is 'n Prediker

Ons is tans op 'n unieke stadium in die geskiedenis waar hulpmiddels en tegnologie amper onbeperk beskikbaar is. Inspirerende boeke, preke wat ons ophef en bemoedigende potgooie is letterlik so naby as ons vingerpunte en agtersakke. 

Wat van daardie oorweldigende en onverwagse oomblikke wanneer jy kwesbaar en onvoorbereid is en dit vir jou voel asof jy platgeslaan is? Baie vrae maal deur jou gedagtes, maar daar is geen antwoorde nie. Die pyn is groter as jou geloof. Vrees het 'n greep op jou wat voel asof dit jou gaan versmoor.

In daardie breukdeel van 'n sekonde wanneer jou gedagtes met jou wil weghardloop, onthou net: jy is 'n prediker. 

Die skrywer van hierdie Psalm het selfondersoek gedoen en verklaar: "Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper (Psalm 42:6).

Net soos die psalmdigter, is jy bemagtig om diep in jou eie siel te kyk en vir jouself te preek. Onthou egter, jou prediking gaan net so goed as jou voorbereiding wees. Om jouself te herinner aan die waarheid, moet jy eerstens die waarheid ken — en die waarheid spreek uit die Woord van God. 

Wanneer jy verward is: "My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here" (Jesaja 55:8). "Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie" (Spreuke 3:5). "Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas" (Spreuke 19:21).

Wanneer jy misluk het: "Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God" (Efesiërs 2:8). "Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy een maal die heiligdom binnegegaan en 'n ewige verlossing tot stand gebring" (Hebreërs 9:12). "... 'My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is' ..." (2 Korintiërs 12:9). 

Wanneer jy bevrees is: "Die gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie ..." (2 Timoteus 1:7). "Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle" (1 Petrus 5:7). Jesus het gesê: "... In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin" (Johannes 16:33). "Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan" (Psalm 62:7).

Dink jy dat jy nie bevoeg is om vir jouself te preek nie? Dink weer. Die dissipels was doodgewone mense wat net saam met Jesus was. Dit kan met ons ook so wees. Ons kan dieper in die Woord delf en onsself die moeilike vrae vra en onsself aan die Waarheid herinner.

Onthou, jy is 'n prediker!

— Jenn, Mastering Rogue Thoughts by Preaching God’s Word  

Bid: Here, help my onthou dat ek die mag het om myself te bemoedig. Ek kan die storms wat in my kop woed deur u krag beveg. Help my om die waarheid — wat ek in u Woord lees — te onthou, sodat ek kan preek — vir myself.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Mastermind

Dit is alles in jou kop. Maar wat as dit 'n goeie ding is? Ons gedagtes is meer as net 'n reaksie op wat in ons lewens gebeur — dit is 'n sterk krag wat ons vorm in wat ons is en ook wat ons kan word. Leer by alledaagse mense soos jyself hoe jy die kragtige waarheid van Romeine 12:2 kan gebruik om die meesterbrein in jouself te ontgin.

More

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://life.church