MeesterbreinVoorbeeld

Mastermind

DAG 3 VAN 7

Dink Waaroor Jy Dink

Het jy al ooit daardie animasie prente gesien waarin 'n karakter voor 'n versoeking staan? 'n Klein duiweltjie met rooi horings verskyn dan op sy een skouer en hits hom aan om die verkeerde besluit te neem, maar dan maak 'n engeltjie met 'n wit gewaad sy verskyning op sy ander skouer om hom op die die regte pad te lei. Ja, ek het al, en ongelukkig is dit 'n situasie waarmee ek myself al te goed kan vereenselwig.

Ek het al geleer dat daar 'n tyd in die lewe aanbreek wanneer die stemme in jou kop (of dié op jou skouer) met mekaar begin wedywer. Dinge wat eens vir jou baie helder en duidelik was, word wasig. Ek kan jou nie sê hoeveel keer daardie klein rooi duiweltjie al in my oor gefluister het: Jy is 'n slegte ma, 'n slegte vrou — jy is oor die algemeen net sleg. Skielik het ek helderheid verloor en my kop was so vol onsekerheid dat ek nie meer die waarheid kon raaksien nie. Ek het 'n plek bereik waar ek genoeg gehad het en 'n besluit geneem: ek het daardie klein rooi duiweltjie van my skouer afgeklap — permanent!

Hier is die lewensveranderende stappe van die Skrif wat my baie gehelp het om daardie stemme in my kop te besweer.

Stap #1: Dink waaroor jy dink. Ons denke is die katalisator wat ons koers bepaal. Dit is hier waar positiwiteit, negatiwiteit en goeie of slegte keuses ontstaan. Dit is die maklikste ding om ons gedagtes onbeheersd te laat gaan, maar ons moet erken dat nie elke gedagte die waarheid is nie. 

Stap #2: As jy gedink het waaroor jy dink, neem dit gevange! 2 Korintiërs 10:5 sê ons het die mag om ons gedagtes gevange te neem en dit aan Jesus gehoorsaam te maak. 

Stap #3: Toets jou gedagte. Wat is die toets? Filippense 4:8! Is dit waar, edel, reg, rein, mooi, prysenswaardig of lofwaardig? Indien nie, wat is die waarheid? 

Stap #4: Besluit wat om te doen met die gedagte. Is dit die waarheid? Hou dit! Is dit 'n leuen? Verwerp dit! 

Ons gedagtes is kragtig. Dit is die aansporing vir elke aksie wat ons neem. Maak dit vandag 'n prioriteit om jou gedagtes te evalueer. Neem afskeid van daardie klein rooi duiweltjie. Ek belowe dit gaan vir jou 'n deurbraak wees!

— Shannon, Mastering Painful Thoughts by Capturing, Testing, and Deciding

Bid: Here, nie elke gedagte wat in my kop opkom is die waarheid nie. Nie elke gedagte waaraan ek sit en dink, is die waarheid nie. Vergewe my asseblief omdat ek aan onwaarhede dink en gedagtes glo wat nie van U afkomstig is nie. Ek kies om voortaan op u waarheid te fokus en dit te oordink.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Mastermind

Dit is alles in jou kop. Maar wat as dit 'n goeie ding is? Ons gedagtes is meer as net 'n reaksie op wat in ons lewens gebeur — dit is 'n sterk krag wat ons vorm in wat ons is en ook wat ons kan word. Leer by alledaagse mense soos jyself hoe jy die kragtige waarheid van Romeine 12:2 kan gebruik om die meesterbrein in jouself te ontgin.

More

Baie dankie aan Life.Church wat hierdie leesplan aan ons verskaf het. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://life.church